Stiltetyd: Erkenning
Daar is nog ander voorbeelde in die Bybel waar afguns ’n rol speel.
Sukses, prestasie en vooruitgang is deel van die lewe. Net soos agteruitgang, teleurstelling en swak prestasie daarvan deel vorm. Mense hanteer sukses en teleurstellings verskillend. Dit is egter ’n ander saak as jy ander nie hul sukses gun nie en op hulle sukses of vooruitgang afgunstig is. Afguns lei dikwels tot gemene spel. In sommige kulture word ander se sukses met suspisie bejeën. Jy word deur jou buurman beskuldig dat jy sy of haar energie “gesteel” het. Dan word jou eiendom beskadig omdat jy nie die reg het om beter te vaar as ander nie.
’n Samelewing waar meriete nie meer as belangrik geag word nie, lei dikwels tot middelmatigheid. Soms word afguns gedefinieer as dat jy hartseer is oor die voorspoed van ander en bly is as dit met hulle sleg gaan. Daarteenoor leer die Bybel ons in Romeine 12:15 dat ons bly moet wees saam met die wat bly is en treur saam met die wat treur. Dit is mos eie aan die mens dat ons goed voel as ander ons aanprys al is dit vir sogenaamde ”klein” suksesse. Ons ken weer die onaangename gevoelens as ander ons afbreek of geen erkenning gee vir enigiets nie.
Daar is nog ander voorbeelde in die Bybel waar afguns ’n rol speel. Dink maar aan die verhaal van Dawid en Saul in die Bybel in 1 Samuel 18. Saul vererg hom omdat die vroue oor Dawid sing-hy wat tienduisende verslaan het teenoor Saul se duisende. Volgens Saul is hy die koning en die tienduisende kom hom toe, al was Dawid klaarblyklik ’n beter militêre strateeg.
Dis oor die sukses dat hy Dawid wantrou en sommer wil doodmaak. Hy het vergeet dat dit oor die volk van die Here en nie oor homself gegaan het nie. Dit het gegaan om die volk van die Here en die Here se naam. As jy volgende keer weer hoor dat die Here iemand geseën het, waak teen die gevoel van afguns. Herken dit as ’n negatiewe gevoel en sê in jou hart vir die Here dankbaar dat hy die persoon seën. Onthou ook van die kere wat die Here jou geseën het. Ja, leer om gereeld jou seëninge te tel.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
