Die wiskunde-‘monster’ – jou kind kan hom oorwin
Daar is deesdae soveel hulp en raad beskikbaar dat die meeste van ons kinders goed kan vaar in wiskunde, veral as ons hulle toelaat om in hulle moedertaal onderrig te word, en as ouers help.
Annelie van Jaarsveld van Afrikaans.com, wat perdiodiek met die Fever korrespondeer, het vandeesweek ‘n e-pos aan die uwe gestuur: ‘Hoop dit gaan sommer baie goed. Ons het lanklaas gesels, maar ek hoop dat die onderstaande artikel ‘n spasie in julle koerant werd is. Dit is ‘n kort artikel met raad oor hoe om ‘n liefde vir wiskunde by jou kind te kweek.’
Omdat ek steeds waarneem dat die vak wiskunde ‘n doring in die vlees is van talle leerlinge, ook in ons onmiddellike omgewing, plaas ek die verkorte weergawe hier vir kennisname deur lesers van die Fever met skoolgaande kinders, dalk ook onderwysers:
“Ons gesindheid teenoor wiskunde word direk aan ons kinders oorgedra en kort voor lank sit ons met ‘n kind wat bang is vir die vak en nie die selfvertroue het om te probeer nie. Maar, dis nooit te laat nie en met die nodige aanmoediging en hulp, kan die meeste kinders wiskunde baasraak. Suid-Afrika vaar nie te waffers op die wêreldranglys vir wiskundeprestasie nie.
Daar is deesdae soveel hulp en raad beskikbaar dat die meeste van ons kinders goed kan vaar in wiskunde, veral as ons hulle toelaat om in hulle moedertaal onderrig te word, en as ouers help.
Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer. Daarom is dit belangrik om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit help om sy selfvertroue te versterk wat sal help om wiskundige vaardighede baas te raak. Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie. Op die manier word die kind subtiel gelei om anders of logies te dink om by die antwoord uit te kom. Moenie die kind verkleineer nie – dit is ‘n ouer en opvoeder se taak om ‘n kind te koester en hulle selfvertroue te versterk.
Verduidelik hoekom wiskunde ‘n belangrike lewensvaardigheid is en dat ‘n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik. Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Die kind moet die wiskundevraag met begrip kan lees om te weet watter stappe om te volg om by die antwoord uit te kom.
Dit is belangrik dat die ouers en onderwysers saamwerk. Sodoende kan die ouer die werk tuis versterk. Sê vir jou kind: “Verduidelik vir my waaroor dit gaan.” Die kind herhaal vir die ouer wat hy geleer het. Versterk begrippe deur daaroor te praat. Bespreek hoe wiskunde in ons wêreld gebruik kan word. Indien die kind geen belangstelling in wiskunde het nie, kan ouers en die onderwyser ook saamwerk om die kind se nuuskierigheid en selfvertroue te help ontwikkel. Dit lei dikwels tot ‘n ommekeer in gesindheid en kort voor lank besef die kind dat hy wel wiskunde kan doen. Die sogenaamde “ek kan”-gesindheid. Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied. Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se kennis van wiskunde lê en dan ‘n stappie terug te neem om op ‘n konkrete vlak die kind te help om dit op daardie vlak te bemeester.
Hendrik de Kock, Wolkskooldosent by die Skoleondersteuningsentrum, gee die volgende 10 wenke om ‘n liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek: Taal en wiskunde gaan hand aan hand, daarom is dit belangrik om die onderrigtaal goed te verstaan (dink hier aan moedertaalonderrig), sodat die kind wiskundige begrippe soos groter as en kleiner as sal verstaan. Vestig getalbegrip. Om die kind slim metodes of truuks te leer om wiskunde aan te leer, word afgeraai, want begrip is die belangrikste. Fundamentele en basiese wiskunde.
Dis belangrik om die basiese reëls te ken, soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels. Hulpmiddele. Gebruik telrame, albasters, blokkies, ensovoorts. Wys op relevansie. Wiskunde is oral om ons, bv. in resepte as ‘n mens kosmaak en hoeveelhede moet afmeet, om tyd en afstand aan te dui, om kombinasies van byvoorbeeld tyd en afstand aan te dui (hoe ver kan ek ry as ek drie ure teen 60 km/h ry, ens.). Speel wiskundespeletjies. Dit maak die aanleer van wiskunde prettig. Speel bordspeletjies soos ludo, slangetjies-en-leertjies. Gebruik die beskikbare tegnologie tot jou kind se voordeel. Laat hulle toe om wiskundespeletjies op die rekenaar te speel. Vergeet van reg en verkeerd.
Fokus liewer op logika om by die korrekte antwoord uit te kom. Dit kweek kritiese denke en probleemoplossingstrategieë. Let op jou woorde om ‘n wiskunde-selfbeeld te bou. Hou dit positief, m.a.w. sê: “Wiskunde is lekker en groot pret!” Moenie etiketteer deur byvoorbeeld te sê dat wiskunde net vir “slim mense” is nie. Moenie die onderwyser afkraak nie. Waak oor daarteen om jou kind te veel te prys, want glo dit of nie, so ‘n kind kan uiteindelik ‘n vrees ontwikkel vir mislukking. Word wiskundig fiks. Maak seker jou kind weet dat dit harde werk verg om te presteer. Ons weet dit is goed om elke dag vir ons kinders voor te lees – net so is dit ook belangrik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen.
Die volle artikel, wat werklik die moeite werd is om te lees, kan gesien word op die webwerf Afrikaans.com.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
