Stiltetyd: Foutvinders
’n Foutvinderige gees kan egter daartoe lei dat alle inisiatief gedemp word.
Het jy al deurgeloop onder die tong van ’n foutvinderige mens? Dit is glad nie ’n aangename ervaring nie. Waar daar eintlik potensiaal is wat ontsluit kan word of oplossings is wat gevind kan word, sien foutvinderige mense net die donker kant van die probleem. Dit is sekerlik ’n goeie eienskap om foute op te spoor. Inteendeel, daar is juis organisasies en instellings wat spesialiseer in kritiese evaluasies van prosesse en sisteme. Die help dan veral in die proses om kwaliteitskontrole toe te pas.
’n Foutvinderige gees kan egter daartoe lei dat alle inisiatief gedemp word. Dit kan ook daartoe lei dat verhoudings tot niet gaan, omdat die foutvinderige mens nie eintlik die goeie kan raaksien nie. Foutvinderige mense veroordeel en verdoem maklik. Dink maar aan die persoon wat gedurig op sosiale media kritiek uitspreek maar nie met konstruktiewe idees en oplossings na vore kom nie. So iemand kan ’n doring in jou skoen word.
In die Bybel, in Filippense 4:8 is daar ’n teenvoeter vir ’n foutvinderige gees. “Verder, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, rig julle gedagtes daarop. Wanneer ons onder leiding van die Heilige Gees ons besig hou met opbouende gedagtes, verander ons ingesteldheid van kritiese foutvinderigheid na konstruktiewe betrokkenheid.
Wat gemaak as jy self aan die ontvangkant van kritiek is? In Spreuke 15:1 staan daar geskrywe: “’n Sagte antwoord keer woede weg.” Dit is natuurlik nie so maklik om ’n sagte antwoord te gee nie. Dit is ook nie so maklik om maar net te maak dat iemand se kritiek nie seermaak nie. Wees egter bereid om teenoor jouself te erken dat jy seergemaak is. Aanvaar die gevoelens van pyn en neem dit in gebed na die Here toe. Wees ook bereid om selfondersoek te doen. Dalk het die persoon ’n punt beet. Dit is dalk die een of ander waarheid wat van God kom en jou oproep om jou lewe se oriëntasie te verander. Aan die ander kant, as die kritiek ongevraagd is, laat die verbygaan. Belangrik boweal, wees opbouend in jou doen en late.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
