South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece.

Beurtkrag en ongeskeduleerde krag-onderbrekings het ons vandeesweek geteister. So kwaai dat ek op hierdie oomblik by die huis sit en tik met ‘n rekenaarbattery wat vinnig pap word en die hulpkragbron-eenhede reeds gedaan. *&#$@ ANC! Julle het die land deur jul g*tte getrek!!.

‘n Vinnige oorsig dus oor die rugbygesprekke hier in die Watergat. Daar was groot tevredenheid oor die Sharks se Curriebekervertonings. Vyf oorwinnings in ‘n ry, en nou bo-aan die punteleer. Dit lyk asof die span uiteindelik sy potensiaal begin verwesenlik. Die Pumas is nie die dominante krag wat hulle verlede jaar was nie, maar is steeds ‘n span om mee rekening te hou. Hulle het Saterdag net-net teen die WP verloor. Die Cheetahs is nie meer so dominant nie, en die Lions het weer naelskraap teen die Bulle verloor. Wat ook nou sterk staan. Minstens vier spanne kan nog die kompetisie wen. Hopelik sal ek aanstaande week meer sinvol kan kommentaar lewer.

‘n Vriend se geliefde hond is gister dood, en ek is deur vroulief herinner aan ‘n storie wat dokter dr. Frans de Bod van Senekal ons enkele jare gelede vertel het. Hy is destyds na ‘n plaas uitgeroep waar ‘n tienjarige herdershond siek was. Die dier het klierkanker gehad, en was besig om stadig te sterf. Die dier se eienaars, soos almal wat lief is vir hul diere, wou weet of daar geen ander uitweg as die genadedood is nie. Daar was nie, en die eienaars het hul sesjarige seuntjie geroep waar hy in sy kamer gesit het, aanvanklik te hartseer om te kom kyk. Hy het ewe braaf gehelp om Rufus op die kombuistafel te tel en gemaklik te maak. Hy het Rufus in die oë gekyk, met sy eie betraande oë, en hom saggies oor sy kop gevryf. Rufus is blitsvinnig verlos.

Skielik breek die seuntjie die stilte nadat hy Rufus se oop oë toegedruk het. ‘Ek weet waarom honde baie korter leef as mense’, het hy verklaar. Almal het na die kind gekyk wat gesukkel het om nie openlik aan die huil te gaan nie. ‘Mense word gebore sodat hulle kan leer om goed te lewe en om almal altyd lief te hê. Honde weet van geboorte af reeds hoe om dit te doen, daarom hoef hulle nie so lank hier te bly nie’.

Frans vertel toe hy huis toe ry, het hy besef hoe gelukkig hy is om met diere, en veral honde te kan werk. Want as ‘n hond jou leermeester is, leer jy onder meer om as iemand wat jy liefhet, tuiskom, te hardloop om die persoon te groet, jy geniet die vars lug en wind ekstaties in jou gesig, jy neem af en toe ‘n slapie, hardloop, speel en baljaar daagliks, jy byt nie wanneer grom genoeg is nie, en wanneer jy gelukkig is, dans jy rond en swaai jou lyf, jy eet met smaak en entoesiasme totdat jy genoeg gehad het, jy is lojaal, en jy probeer nooit iets wees wat jy nie is nie.’

Frans het op ‘n ligter noot gegroet met die volgende: ‘Hoe beskryf jy ‘n hond wat verslaaf is aan knoffel? Sy blaf is erger as sy byt’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button