South Coast Fever

Stiltetyd: Die Christen-gedragskode

Wat kommunikeer jy met en deur jou lewe, jou manier van optree en die dinge wat jy voor staan?

Hoe lyk die gedragskode waarvolgens jy lewe? Wat kommunikeer jy met en deur jou lewe, jou manier van optree en die dinge wat jy voor staan? Ons almal het ’n gedragskode waarvolgens ons optree, bewustelik of onbewustelik. Vir die een sal dit wees om sy of haar merk te maak in die lewe. Vir die ander sal dit wees om te dien. Gedragskodes definieer die manier waarop ons met onsself of na buite met ander kommunikeer. Jesus Christus het in Matteus 22 in antwoord op ’n vraag na die grootste gebod in die wet van God so geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele verstand.’
Dit gaan hier om ’n samevatting van die wet en die profete. Dit gaan dus nie net daarom dat jy vermy om God op die kantlyn van jou lewe te skuif of jou naaste geen kwaad aan te doen nie. Dit gaan om die goeie en die positiewe wat jy doen. Dit gaan om ander te gun om besittings te hê en nie te steel nie. Dit gaan om die lewe te beskerm en ywerig te wees om alle lewe, nie net mense nie, maar ook die diere en die natuur te bewaar. Dit gaan daarom dat jy die gesin koester as kern van die samelewing en self bou aan gesinne wat God eer.

Hierdie opdrag van Jesus dan om lief te hê, God en jou naaste met alles, met ’n passie, met jou hele lewe, kan ook as die Christen se gedragskode gesien word. Dit is die dinge wat vir my belangrik is as Christen. Dit is waarby ek staan of val. Dit alles moet gesien word in die lig van Christus se lewe en sterwe en opstanding uit die dood. Dit is nie maar net ’n mooi voorneme nie. Dit gaan daaroor dat jy in Christus se krag en uit Sy krag die genade ontvang en afbid om die mens te wees wat Christuswaardes soos luister, respek, liefde en omgee uitstraal en uitdra elke dag. Soos Christus Sy dissipels liefgehad het, moet ons as Sy volgelinge mekaar en ander liefhê. Dit is ons gedragskode as Christene.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button