South Coast Fever

Stiltetyd: Is jy God se verteenwoordiger?

Ons sien in Christus hoe God die magte van verwoesting, soos in die Satan en Sy trawante se doen en late, konfronteer en hulle ontspoor word.

Deesdae, of in elk geval al ’n goeie tyd lank, is die studie van genetika aktueel. In die afgelope dekade word vermeld dat ’n betreklik algemene neurodegenerasie-toestand soos Parkinson se siekte, ‘n beduidende genetiese komponent het. In die spreektaal sê ons soms van iemand wat “dwars” optree: “Dit sit in sy gene.” In die Bybel, in Genesis 1:27, word genoem dat God die mens geskep het na Sy beeld. Dit sou ook vertaal kon word met die opmerking dat God die mens geskep het as Sy verteenwoordiger. Die mens is geroep om God te verteenwoordig.

Ongelukkig het daar iets in die oertyd plaasgevind wat deel van die mens se bestemming geword het. Soos neurodegenerasie siektes, het die degeneratiewe toestand algemeen genaamd “sonde” ook in die skepping ingesluip en is die hele skepping aan nietigheid en verganklikheid onderworpe. Die gevolg van die sondeval van die mens is dat elkeen van nature geneig is om hom of haarself te verteenwoordig. In plaas daarvan om byvoorbeeld oor die skepping te heers in die sin dat die skepping namens God bestuur word, buit die mens die natuurlike hulpbronne uit.

Hoe kan die mens weer vir God verteenwoordig? In Kolossense 1:15 word Jesus Christus die beeld van die onsigbare God genoem. In Hom, soos in ’n spieël sien ons weer God se bedoeling toe Hy die mens geskep het om Hom te verteenwoordig in die skepping. In Christus sien ons wat ware omgee, uitreik, diensbaarheid, naasteliefde, deernis, verantwoordelikheid is. Ons sien weer dat om God te dien nie beteken dat jy oor ander heers nie, maar dat jy byvoorbeeld in die werkplek ’n toonbeeld is van diensbaarheid.

Ons sien in Christus hoe God die magte van verwoesting, soos in die Satan en Sy trawante se doen en late, konfronteer en hulle ontspoor word. Meer nog, die magte van die Bose word aan bande gelê en dinge soos uitbuiting van ander en die skepping word nie meer die leidende motief in die mensdom se verhaal nie. Dit sal dalk goed wees om ’n slag weer net die hand in eie boesem te steek en te vra hoe jy in jou optrede teenoor ander en jou bestuur van jou omgewing, God verteenwoordig.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button