Wonderlike dag vir Suidkus se top-joernalis
Verlede week het die gesin uit die bloute uit een van die groot verassings van hul lewens gekry.
Min mense hier op die KZN-Suidkus is nie bewus van die veelbekroonde joernalis Quintin van Jaarsveld nie. Quintin, wat ten spyte daarvan dat ‘n rugby-‘tackle’ hom op 16-jarige leeftyd as ‘n kwadrupleeg gelaat het, met ongelooflike deursettingvermoë, onwrikbare geloof in sy Skepper, en met die toegewyde hulp van sy ouers, familielede en hulp-organisasies, vasgebyt en ‘n groot sukses van sy lewe gemaak het.
Dit was ‘n moeilike, uitmergelende pad tot hier wat sy tol geëis het. Moeilike finansiële omstandighede agv. mediese koste, groot opofferings van sy ouers Leon en Petro, en ‘n aanpassing by ‘n heel ander lewenswyse agv. sy fisieke toestand. Nietemin het Quintin oor die jare ‘n blymoedige mens gebly, geweier om in sak en as te gaan sit, homself as ‘n joernalis bekwaam en oral respek afgedwing. Quintin en sy ouers moes die afgelope jare vir vervoer klaarkom met ‘n afgeleefde Volkswagen Minibus, wat gereeld onklaar geraak het met die gevolglike herstelkoste.
Verlede week het die gesin uit die bloute uit een van die groot verassings van hul lewens gekry. ‘n Splinternuwe Volkswagen Caddy is by hulle afgelewer, met die gespesialiseerde hyser om Quintin in sy rolstoel in en uit die voertuig te laai. Quintin het op sy Facebookblad laat weet woorde kan nie beskryf hoeveel dank hulle aan die Cunningham Kemp Trust vir Spinale Beserings van die KZN-rugby-unie verskuldig is omdat hulle die totale koste gedek het nie. ‘Dit is ‘n droom wat bewaarheid , gebede wat verhoor is. Dankie aan almal by die trust wat dit moontlik gemaak het. Dankie aan Sandra-Lee Nielson-Gutierrez, ‘n absolute engel, Steven Bolleurs van Hoopers Volkswagen en Derek Springer van Skyjacks vir hierdie lewensveranderende seëning. Wonderwerke gebeur. Ons sal hierdie dag nooit vergeet nie’.
Ek het Quintin die volgende dag gebel, en sy blydskap was onmiddellik waarneembaar. ‘Ons is in die wolke. Kan dit nog nie glo nie. Dis ‘n wonderlike voertuig. En splinternuut! My ma het gister die hele dag gehuil’. Dit was goed om weer met hom te gesels, altyd blymoedig, positief, en hy skroom nie om sy Christenskap te verklaar en uit te leef nie. Quintin en ek ken mekaar reeds 14 jaar lank. Saam gewerk by die SC Fever, en daarna eHowzit. Hy doen op die oomblik vryskutwerk as ‘n spesialis-sportjoernalis vir verskeie instansies en behartig die publisiteit vir sy broer Jacques se sake-onderneming.
Ter inligting van mense wat sy geskiedenis nie goed ken nie, herhaal ek uittreksels uit ‘n artikel wat ek enkele jare gelede oor hom vir Rapport geskryf het. Op 15 April 2000 was Quintin ‘n lewenslustige, fikse, veelsydige sportman met ‘n blink loopbaan voor hom. Op dié dag het hy vir die Hoërskool Suid-Natal se eerste span teen Durban North College, op hulle veld, skrumskakel gespeel. Quintin het om ‘n skrum gebreek, is van agter af gelak, kon nie sy arms gebruik om sy val te stuit nie, en het op sy kop geval. “Ek is in ‘n normale, nie-gevaarlike duikslag oombliklik verlam weens ‘n fraktuur aan my C5-werwel. Daar was ongelukkig geen mediese diens of dokter by die veld nie. Gelukkig het mense soos Jacques de Beer en ons afrigter Danie Bergh beheer van die situasie geneem en gesorg dat ek op die gepaste manier van die veld af vervoer is. Geneeshere het hom min kans op oorlewing gegee. Van die fikse en fris tienerseun van 70 kilogram het net 40 kg oorgebly. Die eerste paar jaar ná die ongeluk was loutere hel, maar met die ongelooflike en onselfsugtige hulp en bystand van my ouers en broer het ek daar deurgekom.”
Na sy drie maande in die hospitaal was Quintin nog drie maande lank in ‘n rehabilitasie-sentrum in Hillbrow. Hy het drie vakke per jaar oor twee jaar geneem en sy matriek voltooi. Sy broer Jacques het saam met hom klas geloop om hom te help. Quintin het vroeg reeds ‘n aanleg vir tale en woorde gehad, en nadat hy op ‘n rekenaar met sy kneukels leer tik het, het hy oor drie jaar kursusse by Intec en Unisa in Kreatiewe Skryfwerk, Gemeenskaps-joernalistiek en Kommunikasiekunde voltooi. Hierna werk Quintin van die huis af vir die webwerf SARugby.com, eers as rubriekskrywer en uiteindelik as hoofredakteur oor ‘n tydperk van sewe jaar. In 2009 begin hy by die South Coast Fever as sportredakteur, in 2012 sluit hy hom terselfdertyd by rugby365.com aan, en in 2014 word hy die adjunk- en sportredakteur van die destydse plaaslike nuusplatform eHowzit.
Hy word in die proses beloon met verskeie toekennings: die MDDA/Sanlam gemeenskaps-sportjoernalis van die jaar (2013), die Vodacom KwaZulu-Natal-sportjoernalis van die jaar (2013), finalis in die Vodacom Suid-Afrika-sportjoernalis van die jaar (2013), die naasbeste gemeenskapsjoernalis van Media 24, mees uitstaande joernalis van die Fevergroep (2013 ), finalis in die MDDA/Sanlam Gemeenskapsjoernalis van die Jaar (2012) en wen ‘n Media 24-sportjoernalis toekenning (2012). Hy het onderhoude met verskeie sportlegendes gevoer, en in 2011 is ‘n foto van hom en die Springbokspan geneem met hom in die kapteinstoel.
Quintin kan niks vir homself doen nie – sy ouers help hom met alles. Hy doen elke dag by die huis spesiale spieroefeninge, kry weekliks fisioterapeutiese behandeling by ‘n praktisyn, en moet baie kieskeurig wees oor wat hy eet. Hy het geen gevoel van sy nek af ondertoe nie, en kan net sy arms beweeg. Tog bly hy diep gelowig, blymoedig met ‘n skerp sin vir humor. Voorwaar ‘n besonderse mens.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
