South Coast Fever

Stiltetyd: Liefde vir die skepping

Daar is immers net een planeet en jy is dit deur God vergun om hier te woon. Waardeer wat jy het.

Inwoners aan die Suidkus van KZN is besonder geseënd. As dit nie die mooi sonsopkomste is nie, is dit die see wat in duisend kleure verkleur. Die lug is skoon. Dit alles noop ons om wat ons het, nog meer te waardeer.
’n Bekende teoloog met die naam Moltman, het sover gegaan om Jesus se opsomming van die wet op te som met die woorde: ”Jy moet die aarde liefhê soos jouself.”

Hy doen dit omdat hy oortuig is dat die aarde ingesluit is in die woord naaste. Dit maak sin as mens daaraan dink dat hoe ons met die aarde omgaan nie net implikasies het vir onsself nie, maar vir ander mense om ons ook.
Psalm 104 is ’n loflied op die Skepper en Sy skepping. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos ’n tentdoek, leer die Psalm. In dieselfde asem word in vers 11 gesê dat dit God is wat aan die diere van die aarde water gee.
Hy is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers. Dit is Hy wat die bome geplant het sodat die voëls daarin kan nesmaak.

In verse 27-30 word dit duidelik dat die skeppingswerk van die Here nie tot die gryse verlede behoort nie.
Hy sorg nog steeds vir alles. Alles bestaan deur die genade en liefde van God.
As Hy sy hand onttrek, stort alles in duie. Niks kan leef as dit nie vir die genade van God is nie.
Sonder God sterf alles en almal. Ons is, soos die hele skepping, volkome afhanklik van Hom.
Psalm 104 roep ons op om te kyk na die skepping en om die hand van God in alles raak te sien.
Bo al roep dit ons op om die lof van die Skepper te besing. Daar is immers net een skepping en hoe ons in hierdie skepping leef en optree, vertel iets van ons eie verhouding met die Skepper.
Miskien is dit nie so vergesog om te sê dat ons nie net God en ons naaste moet liefhê nie, maar ook die skepping soos onsself.

Daar is immers net een planeet en jy is dit deur God vergun om hier te woon. Waardeer wat jy het.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button