South Coast Fever

Beroerte – nie langer net ‘n ‘oumenssiekte’ nie

Opinion piece.

Nadat twee familielede oor die afgelope paar jaar meer as een beroerte-aanval gehad het, het die uwe, en die hele familienetwerk, weereens kennis geneem van hierdie siektetoestand waarvan ons almal vir geslagte lank reeds bewus is. Sommige mense wat dit kry, is gelukkig, en oorleef dit met die minimum-nagevolge. Soos die geval was met die famlilielede. Die nagevolge by hulle was relatief matig, wat later verdwyn het, by die een geval, en geen nagevolge by die ander een nie.

Ander slagoffers oorleef dit, maar met nagevolge vir die res van hul lewens, soos bv. die beperkte gebruik van ledemate, of ‘n spraakgebrek. Sommiges is minder-gelukkig, en sterf kort nadat die beroerte hulle tref. Daar is deur die jare algemeen aanvaar dat beroerte-aanvalle feitlik eksklusief onder middeljarige en veral bejaarde mense voorkom. Ek het die afgelope tyd verskeie nuusberigte gesien oor jong mense, sowel hier as in die buiteland, wat die slagoffers van beroertes was, en verlede week afgekom op ‘n insiggewende artikel deur die Britse neurospesialis Dr. Lynne A. Barker van die Sheffield-universiteit. Dit het oorspronklik in The Conversation, ‘n internasionale netwerk wat mediese navorsingsresultate versprei, verskyn, en is deur Vrye Weekblad gepubliseer.

Dr. Barker verwys na ‘n Amerikaanse kletsrymer, Kid Cudi, wat onlangs onthul het hy het op die ouderdom van 32 ‘n beroerte gehad onderwyl hy behandeling ontvang het vir sy geestesgesondheid. Hy het tydelike swak spraak, beweging en geheueprobleme oorgehou. Die model Hailey Bieber (25) het ook vroeër vanjaar ‘n “mini-beroerte” gehad, veroorsaak deur ‘n bloedklont in die brein. Haar eerste simptome was lamheid en ‘n prikkelgevoel aan die een kant van haar lyf, haar gesig wat aan die een kant ‘gehang’ het. Sy het gesukkel om woorde te vorm.

Daar is verskilllende soorte beroertes. ‘n Beroerte vind plaas wanneer daar ‘n onderbreking van die bloedtoevoer en suurstof na die brein is, veroorsaak deur ‘n obstruksie, besering of bloeding. Verskeie faktore kan jou risiko daarvoor verhoog. Een daarvan is sekere oorgeërfde faktore. In Bieber se geval is haar beroerte veroorsaak deur ‘n aangebore opening in haar hart waardeur ‘n bloedklont in haar bloedstroom beland het en na haar brein gevoer is. Ander faktore wat die risiko vir ‘n beroerte kan verhoog, is die swaar gebruik van dwelmmiddels en alkohol, asook kopbeserings – dis waarom dit so belangrik is om vir sekere sportsoorte iets te dra wat jou kop beskerm.

Hoewel daar nie data is wat toon presies hoe algemeen beroertes in mense tussen die ouderdomme van 20 en 40 is nie, weet medici watter soort beroerte die meeste in hierdie ouderdomsgroep voorkom. Luidens een verslag is die helfte van alle beroertes by mense tussen die ouderdomme van 15 en 44 blykbaar iskemiese beroertes. Dit gebeur wanneer ‘n bloedklont of ander stof (soos cholesterol) ‘n blokkering in die bloedtoevoer na die brein veroorsaak. Dit kan ‘n tydelike iskemiese beroerte wees, soortgelyk aan wat Bieber gehad het. Dit is grotendeels dieselfde as ‘n beroerte, behalwe dat die simptome vir ‘n baie korter tydperk duur omdat die blokkering tydelik is.

Bloeding in die brein (ook bekend as binneharsingbloeding) is die naasalgemene oorsaak van beroertes in jong mense. Dit gebeur wanneer die brein se are en slagare skeur, gewoonlik weens ‘n kopbesering, hoë bloeddruk of ‘n blokkering (soos ‘n aneurisme of embolisme). Hierdie soort beroerte is ernstig en kan in sommige gevalle dodelik wees. Die derde soort beroerte, genaamd subaragnoïede bloeding, word veroorsaak deur bloeding op die oppervlak van die brein. Bloed word vasgevang onder die brein se beskermende subaragnoïede laag, wat swelling veroorsaak en die brein teen die skedel saampers en bykomende breinskade veroorsaak. Dit is ook baie ernstig en kan dodelik wees, maar hierdie soort beroerte is minder algemeen as die ander twee soorte in jong mense.

Dr. Barker sê dis belangrik om te besef dat die simptome van ‘n beroerte nie anders lyk in jong mense as in ouer mense nie. Maar omdat die meeste mense nie verwag om ‘n beroerte in hul 20’s of 30’s te hê nie, herken hulle nie die simptome as dit wel voorkom nie, of dink dis nie so erg nie. Net so verwag mediese personeel nie ‘n beroerte in jong mense nie, wat tot ‘n verkeerde diagnose kan lei omdat dit nie vining genoeg behandel word nie. Vinnige optrede en behandeling kan ook bepaal of ‘n persoon herstel of nie; daarom is dit so belangrik om die simptome van ‘n beroerte te ken.

Beroertesimptome kom gewoonlik aan een kant van die liggaam voor en kan vreemde sensasies veroorsaak, soos ‘n prikkelgevoel of lamheid van die gesig, arm of been. Verwarring, duiseligheid en ‘n verlies aan balans kan algemeen voorkom, die gesig kan aan die een kant hang en jy kan sukkel om te praat. Die simptome en uitwerkings van beroertes hang in geheel af van watter dele van die brein sonder suurstof was. Dit is dieselfde in jong mense as in ouer mense. Die uitvloeisels van beroerte in jong mense kan gekompliseerd wees. Alhoewel ‘n jong brein na trauma beter kan herstel, is die brein nie volledig ontwikkel tot op 28-jarige ouderdom nie. In sommige opsigte kan dit dus meer kwesbaar wees vir skade as ‘n ouer brein.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button