South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die Julie-vakansie is weer in volle swang, en hier by ons gaan dit heel jollie.

Die Julie-vakansie is weer in volle swang, en hier by ons gaan dit heel jollie. Na die kwaai reën verlede week, wat ons in ‘n stadium redelik swartgallig gemaak het omdat van ons besoekers van elders oorweeg het om huis toe te gaan, het dinge drasties verbeter. Die reën het verdwyn, en grootliiks weens die goeie werk van Tidy Towns Shelly to Margate is baie van die ergste ontwrigting en skade herstel, en ons kry net goeie terugvoer van die Gautengers en Vrystaters. Dankie aan al die betrokkenes.

Ons het maar min sport die afgelope week gekyk, min groot rugby, maar Wimbledon het darem begin en dis altyd lekker om die verskillende rondes dop te hou. Veral die vroue-afdeling, want daar is ‘n paar nuwe aanvallige, jong spelers veral die ou Oos-Bloklande wat nogal sag op die oog is. Oom Pottie sê dit gee hom rustigheid in sy hart indien hy hulle dophou wanneer hy besig is om glase af te droog en die rakke netjies te maak. Wat dit ookal beteken.

Nietemin, ons word besoek deur baie vakansiegangers, talle van hulle ou bekendes wat elke jaar in Julie hierheen kom, en die gesprekke, behalwe diegene oor politieke temas wat net swartgalligheid, frustrasie en woede veroorsaak, en wat ons vermy, se hooftema is die komende rugbykampioenskaptoets Saterdag teen Australië op Loftus. Ons kan agterkom Suid-Afrikaners is uitgehonger vir toetsrugby. Alle kaartjies is uitverkoop, en heelwat vakansiegangers wat gewone grootte TV-stelle in hul woonstelle het, het vooruit laat weet hulle kom hierheen.
Ons het dus ‘n besprekingstelsel ingestel, en hulle kan nou ‘n sitplek bespreek naby een van ons drie 65-cm UHD-stelle, en teen ‘n bedrag van R250 per persoon kry hulle twee bakkies biltong, een voor en een met rustyd, drie biere van hul keuse, ander versnaperings soos neute en aartappelskyfies, Bobotie as hoofmaaltyd net na die wedstryd, gevolg deur vroulief se melktert. Die voorwaarde is hulle moet hulself by ‘n buffettafel bedien. Ons het sitplek vir 70 mense by tafels vir hierdie nuutjie, en terwyl ek skryf het ons reeds 35 besprekings. Nie sleg nie. Gaan harde werk wees, maar my bankbestuurder gaan glimlag.

Die ander belangrike rugbytema was, heel voorspelbaar, die spankeuses vir die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar. Veral die losskakels, en die kaptein. Pottie sê hy kan met baie dinge saamleef, maar hy hoop nie Jacques Nienaber besluit om na oorlojale Vrystaters te luister en Ruan Pienaar op losskakel in te span nie. Al is dit net vir die rugbykampioenskap. Sy tyd is verby. Stem nogal saam. Ewenwel, dit gaan baie interessant wees om te sien wat Rassie-hulle gaan doen. Die drie voorafgaande kampioenskapwedstryde sal waarskynlik meer lig daarop werp.

Ons loopstorie kom van Stan Steyn van Pretoria. Juffrou vra vir Buksie: “Wie het die gloeilamp uitgevind? ” Buksie sê: “Ek weet nie juffrou.”Juffrou sê vir Buksie: “Jy sal meer op jou studies moet fokus. ” Buksie: “Juffrou, kan ek juffrou asseblief ‘n vraag vra? “Juffrou sê:” Ja.”Buksie: “Juffrou, weet juffrou wie is Tannie Karin? “Juffrou antwoord:” Nee Buksie, hoekom? “Buksie: “Juffrou sal meer op juffrou se huwelik moet fokus!”

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button