Stiltetyd: Verandering
Hoe dikwels het dit nie al in jou lewe gebeur dat jy verandering moes bestuur nie?
Hoe dikwels het dit nie al in jou lewe gebeur dat jy verandering moes bestuur nie? Die trek na ’n nuwe woonplek, die aftrede, die nuwe lewensmaat, die verlies van ’n geliefde. Dis alles dinge wat mens se lewe omkrap of deurmekaarkrap. Psalm 106 vertel van geleenthede waar die Here se mense verkeerde besluite geneem het en dit hul lewens omvergegooi het. Die Psalm praat van die tyd toe die Here se volk ’n goue kalf gemaak het en daarvoor neergebuig het. Hulle het gemor en gekla oor hulle kosvoorraad so skraps was tot die Here vir hulle oorvloed gegee het waaraan hulle hul vergryp het.
Dit vertel die verhaal van mense se troubreuk aan die Here en van Sy goedheid en trou wat in skrille kontras daarteenoor gestaan het. Hulle ontrou het gemaak dat hulle elke keer hulself in ’n krisistyd bevind het. In krisistye het mens ankers nodig, soos ons sekerlik ook beleef in hierdie dae waarin die hele wêreld, ons land ingesluit baie uitdagende tye beleef.
Wat is die ankers waaraan die Psalmis vashou in ontwrigtende tye? In die Psalm roep hy die hoorders op om die Here te prys en loof. Hy motiveer sy oproep deur te sê dat die Here goed is en dat daar geen einde is aan sy liefde nie. Is dit nie baie bekende woorde nie? Ja, dit was een van die kern belydenisse in die Ou Testament. Hoe dikwels lees ons nie dat die gelowiges opgeroep word om die Here te loof en te prys omdat Hy goed is en daar geen einde is aan sy liefde nie.
Gelowiges behoort die Here te prys, nie omdat Hy ons red of versorg of beskerm of wat ook al vir ons doen nie. Dan doen ons dit mos om iets te kry. Nee, ons moet Hom prys omdat Hy goed is en omdat daar geen einde is aan sy liefde nie. Hierdie besef dat daar geen einde aan Sy liefde is nie, al stel ons hom dikwels teleur, veranker ons as dit voel of ons ankertoue losraak. Dalk het jy gefouteer, koers verloor. Onthou dat om Christus ontwil die Here nooit Sy kinders versaak nie. Die pad terug na Hom toe is oop.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
