South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece by Wouter Willemse.

Dit was baie rustig hier in die Watergat die afgelope 10 dae. Net ‘n stadige toevloei van besoekers en ons kon baie tyd gebruik om die plek, en veral die kombuis, behoorlik skoon te maak. Die gesprekke was oor die gewone onderwerpe: Die gemors waarin die land hom bevind, veral die swak dienslewering hier by ons, en rugby. Veral die nederlaag teen die All Blacks, en die Springbokke se kanse teen die Pumas Saterdag. Na oorweging het ek besluit om vandeesweek niks daaroor te sê nie, veral nie oor die Bokke se Wêreldbekerkanse nie. Na Saterdag sal dit meer sinvol wees.

Ons storie van die week het ons voorheen hier gehoor, lank gelede, maar vandeesweeek weer vertel deur Jan Steenkamp van Bloemfontein. Dis glo gegrond op ware gebeure, en die moeite werd om weer te vertel: Bul Steenkamp was van kleins af ‘n meneer. Binne tien jaar na matriek ‘n multi-miljoenêr, ‘n sosiale siel soos min, baie gemoedelik en vrygewig, maar hy het nie met hom laat speel nie. Sy bynaam moes egter ook die voorsetsel ‘stoet’ gehad het. Op ‘n dag besluit hy hy het ‘n ‘trofeemeisie’ aan sy sy nodig. Bul bestel haar as’t ware uit Johannesburg se beste model-voorraad……..’gebou soos ‘n pou’, vertel Jan, blond en sexy verby. Bul was baie uithuisig weens sy sakebedrywighede, en Flaffie, soos hy haar genoem het, se hormone was, soos syne, ook nie lui nie.

Bul kom gou agter iemand anders wei in sy kamp. Hy laat bou ‘n wynkelder reg onder hul slaapkamer met ‘n swaar sluitdeur. Hy vertel Flaffie hy moet drie dae Durban toe gaan, waarna hulle die kelder sal inwy. Flaffie is in haar noppies. Bul se Sewe-reeks BMW is skaars om die draai, toe bel sy die buurbul: ‘ons het die huis vir drie dae….kom sommer nou’. Twee straatblokke van sy huis af, sit Bul dertig minute in sy motor, draai om en ry terug. Daar staan ‘n flenter-duinebesie voor sy deur. Hy bel Flaffie: ‘liefie, my vergadering is uitgestel….sien jou nou-nou…ek het ‘n groot verrassing vir jou!’ Flaffie word doodsbleek. ‘Gou….klim hier in’……skreeu-gil sy vir die buurbul, wat holderstebolder die trappe af in die wynkelder in verdwyn, poedelkaal. Flaffie sluk drie valiums, pluk haar hempie en jeans aan, en gaan sluit die voordeur oop. Bul staan daar met blomme. ‘Sit hulle in water, ek gaan haal gou my baadjie, dan ry ons ‘n entjie. Jy sal nie glo wat ek beplan het nie.’

Bul gaan kamer toe, loer onder die bed, en sy vermoedens word bewaarheid toe hy die paar tekkies en klere sien. Hy sluit die swaar deur van die kelder, en sit die sleutel in sy sak. Flaffie voel siek, maar sy ‘hou haar pose’. ‘Kom, kom’……..trek Bul haar die BMW in. ‘Wat nou?’ vra sy toe hulle by die hek uitry. ‘Ek het ‘n groot verrassing………jy wou mos altyd die Franse Riviera sien? Sonbrand op St Tropez? Ons gaan soontoe. Ek het ons paspoorte’ ‘Ek het nie klere nie..’ stotter sy. ‘Geen probleem nie….ons koop alles……daar wag reeds ‘n tas vol vir jou op die lughawe,’ sê Bul, selftevrede en selfvoldaan. Hy laat mos nie met hom speel nie. ‘Ons gaan drie weke saam, alleen wees en onsself gate uit geniet. Is dit nie wonderlik nie?’ Flaffie haal skaars asem en is wasbleek.

Wat nou?

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button