South Coast Fever

Stiltetyd: Bevryding

Die wekroep deur die eeue was een van bevryding. Bevryding uit byvoorbeeld die onderdrukking van slawerny.

Die wekroep deur die eeue was een van bevryding. Bevryding uit byvoorbeeld die onderdrukking van slawerny. Dink maar aan die voorbeeld van die Jode wat in slawerny in ou Egipte destyds verkeer het. Dan was daar die geroep van ballinge in die ou Persië.
Deur die eeue is een volk deur ’n ander verdruk. Dit is egter nie net op sosio politieke gebied waar mense verdruk word nie. Mense ly ook onder die druk van dominerende huweliksmaats, of werkgewers, of selfs godsdienstige leiers. So sou mens die voorbeelde kon vermenigvuldig deur die eeue. Psalm 107 gebruik die voorbeeld van mense wat deur die Here bevry is uit situasies wat hulle vasgevang het of gebind het.
Die Psalmis noem dan vier groepe wat deur die Here bevry is. So pas hy sy oproep toe met verwysing na die spesifieke omstandighede van hierdie groepe. Dit is opvallend dat hy hier na vier groepe verwys. Vier was in daardie tyd die getal van die mens of die wêreld. Deur dus na vier groepe te verwys, word na die volheid van die mensdom verwys. Daarmee word dus nie gesê dat dit net dié groepe is wat die Here moet loof nie, maar dit word as voorbeelde van die verlossing van die Here van alle mense gebruik.
Ons sou met die verskillende kontekste waaruit mense bevry is ons kon vereenselwig. Daar is mense wat verdwaal was in die woestyn, mense wat in die donker gesit het, mense wat deur hulle eie dwaasheid in die moeilikheid gekom het, mense wat op die see (simbool van chaos) gevaar het en na die Here roep in hul nood. Psalm 107 wil vir ons sê: maak nie saak onder watter moeilike omstandighede jy jou bevind nie.
Maak nie saak wat die rede vir die situasie is nie. As ons tot die Here roep uit ons ellende en nood, Hy luister. Hy sal ons bevry en uitkoms gee. Maar dan lê die verpligting op ons om Hom te loof vir sy troue liefde en sy wonderdade. Kan ons nie almal getuig dat dit al met ons gebeur het nie? Glo ons dat dit vandag nog kan gebeur, ook in jou eie omstandighede?

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button