Hoe is dit moontlik dat aardverwarming steeds ontken word?
Opinion piece by Johan Pretorius.
‘Die era van aardverwarming het geëindig en die era van ‘aardkookpunt’ het aangebreek”. Dit was die opspraakwekkende woorde van die Sekretaris-generaal van die Verenigde Volke, Antonio Guterres, verlede week.
Toe ek dit oor die radio hoor, het ek regop gesit en gewonder of hy sy woorde behoorlik deurdink het voordat hy so ‘n ‘n aanvegbare stelling kon maak. Die aarde kook? Toe ek egter kennis neem van sy motivering, was daar meer begrip. Hoe argumenteer ‘n mens ten gunste van die teendeel nadat gerespekteerde wetenskaplikes bevestig het dat Julie 2023 die warmste maand in die wêreldgeskiedenis was? Die laaste drie maande van die jaar was die warmste sedert rekordhouding begin het. Die Wêreld-meteorologiese Organisasie ( WMO) en die Copernicus Aardwaarnemingsprogram het toe pas bevestig dat temperature wêreldwyd talle rekords gebreek het. Veral Europese lande en Amerika het erg deurgeloop.
Die organisasies is vas oortuig daarvan die hoër temperature is die gevolg van besoedeling weens die verbranding van fossielbrandstof, wat sonlig ‘vasvang’ en ‘n kweekhuis-effek veroorsaak, wat dan ekstreme temperature en vloede meebring. Guterres het verwys na wat hy genoem het ‘n ‘wrede somer’ vir groot dele van Noord-Amerika, Asië, Afrika en Europa. “Die mensdom is op ‘n vuurwarm plek, en wetenskaplikes is adamant”, het hy gesê. “Dis skrikwekkend. Ook bloot die begin, die situasie gaan net erger word. Ons staar ‘n ramp wat deur mense veroorsaak is, in die gesig. Dis ook presies wat in die verlede voorspel en waarteen gewaarsku is. Die enigste verrassing is die spoed van die verandering.” Guterres het politici dringend gevra om vinnig op te tree. “Leiers moet lei, daar kan geen verskonings of aarseling meer wees nie. Ons het eenvoudig nie meer tyd nie.”
Of dit hoegenaamd enigiets gaan verander aan die ontkenners van aardverwarming se siening, moet nog gesien word, Wat my dronkslaan, is hoe enigiemand nog kan ontken dat daar groot fout is met die aardklimaat. Ja, daar is drukgroepe wat emosioneel raak en hul optredes en uitsprake teen aardverwarming oordryf. Maar ‘n totale ontkenning is onverstaanbaar. Snuffelwerk op die internet toon ontkenners wat deur ‘n ekstreme ‘vryemark-ideologie’ aangevuur word, het ‘n duidelike modus operandi. Hulle het oor die jare beweeg van die een vals argument na die ander en aanvanklik ontken dat die aarde warmer word, totdat hulle dit weens die onteenseglike bewyse nie meer kon doen nie. Vir ‘n kort tydperk in die negentigerjare het hulle volgehou dat die verwarming gestop het, totdat ‘n reeks ekstreme warm jare hulle genoop het om eerder te ontken dat die verwarming deur fossielbrandstof en ander mensliike aktiwiteite veroorsaak is. Toe wetenskaplikes bewys het dat daar geen ander verduideliking is nie, het hulle begin aanvoer die risiko’s wat klimaatverandering meebring is niksseggend.
Nog ‘n bedenkllike taktiek van die ontkenners is persoonlike aanvalle op invloedryke kenners, met die hoop dat dit hulle op ‘n manier sal stilmaak. Bekende Britse professore het doodsdreigemente ontvang, en van hul grootste kritici is Amerikaanse regsgesinde politici. Ook die bekende Britse natuurkundige, Sir David Attenborough, is onlangs aangeval omdat hy die negatiewe invloed van aardverwarming op die planeet se dierelewe in sy TV-programme beklemtoon. Hy word gereeld deur hulle geteiken.
Verskeie ander drukgroepe en organisasies, elkeen met sy eie nywerheids-, politieke en ideologiese konneksies, dikwels gesteun deur regsgesinde mediagroepe en skeptiese internet-‘bloggers’, doen hul bes om die openbare mening te beïnvloed. Diegene wat aardverwarming ontken, gebruik retoriese taktiek om die skyn van ‘n wetenskaplike kontroversie te skep terwyl daar nie so-iets is nie. Die georganiseerde veldtog om openbare vertroue in die klimaatswetenskap te ondermyn, het sterk verbintenisse met konserwatiewe ekonomiese beleidsrigtings en nywerheidsbelange wat gekant is teen die regulering van CO2-gasse. Van die ontkenners van aardverwarming is ondersteuners van nasionalistiese, populistiese politici wat gekant is teen sg. ‘globalisering’. Die oud-president van Amerika, Donald Trump, is een van die prominente politici wat ontken daar is aardverwarming. Hy sê die wetenskaplikes weet nie waarvan hulle praat nie, dis ‘n ‘hoax’ om China te bevoordeel, en mense moet hulle eerder oor ‘n kern-oorlog bekommer. Die tragiese waarheid is sy miljoene ondersteuners huldig waarskynlik dieselfde mening.
Indien Guterres se uitsprake na aan die waarheid is, en ek glo hullle is, gaan die ontkenners, saam met die ander van ons ‘n verskriklike, tragiese prys betaal. Iets wat totaal onnodig is, en die regtstreekse gevolg is van selfsugtige, onvergeeflike eiebelang en stipsienigheid.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
