South Coast Fever

Speel met jou kleinkinders, en leef langer

Opinion piece by Johan Pretorius.

As ‘n bevoorregte oupa en ouma wat in dieselfde ( baie groot ) huis bly as ons kleinkinders, is ons nie in mekaar se pad nie, maar sien ons hulle minstens vir kort tye per dag, eet die meeste aande saam, en veral oor naweke is die geleentheid daar om aan verskillende aktiwiteite saam met hulle deel te neem. Wanneer oupa of ouma, pappa of mamma, of een van die drie verjaar, word hulle wakker gesing en wortelkoek gevoer. Die lekkerste is egter om op die ingewing van die oomblik tafeltennis, skaak, ‘Franse krieket’, ‘pool’ of ‘n bordspel saam met hulle te speel. Veral die mededinging wat fisiese aktitiwiteit verg, is lekker en laat oupa goed voel. Basies omdat ek nie veel ander oefening kry nie.

My aandag is op bg. gevestig deur ‘n berig in die Washington Post oor die voordele van grootouers wat gereeld met hul kleinkinders interaksie het, en veral met hulle speel. Die berig lui oupas en oumas wat gereeld by fisiese aktiwiteite met hul kleinkinders betrokke is, bly langer gesond en hulle leef ook langer. Die lewens van die grootouers kry meer betekenis, hulle word geestelik en andersins gestimuleer, en die verhoudings tussen hulle en die kleinkinders bly vir die res van hul lewens heilsaam en iets besonders. Die Post verwys na navorsing van die Amerikaanse Pediatriese Akademie wat toon die lewens van grootouers wat gereeld saam met hul kleinkinders fisiese aktiwiteite beoefen, word mateloos verryk. Hulle begin onder meer weer die plesier van hul eie kinderjare ervaar en word as’t ware verjong deur die ervaring. Hulle het waarskynlik op hul gevorderde ouderdom meer tyd om te ‘speel’ as wat hul tydens hul eie kinderjare gehad het.

‘n Assitent-professor in Pediatrie aan die Yale Universiteit, Michael Yogman, meen grootouers is wonderlike speelmaats. Volgens hom moet oupas en oumas wat die geleentheid kry om ‘n groot rol in die lewens van hul kleinkinders te speel, dit met albei hande aangryp. ‘n Studie van die Universiteit van Glasgow toon grootouers kan ‘n reuse bydrae lewer tot ‘n familiekultuur van fisiese aktiwiteit. Studies het bewys grootouers wat besef speel en fisiese aktiwiteit is ‘n sleutelelemente in die verhoudings met hul kleinkinders, bou verhoudings tussen generasies en motiveer die oupas en oumas des te meer om aktief te bly.

Die Post berig in België het navorsers aan die Vrije Universirteit van Brussel ‘n sg. Gesonde Grootouerskap-projek aangepak. In België is ‘n geraamde 62% van mans en 70% van vroue 50 jaar en ouer grootouers, een van die hoogste koerse in Europa. Meer as die helfte van die grootouers, 53%, pas kleinkinders op vir gemiddeld 13-uur tydens ‘n tipiese week. In die studie – waarskynlik die enigste in sy soort, en wat tot die einde van aanstaande jaar sal duur – word drie groepe Belgiese burgers met mekaar vergelyk: grootouers wat kleinkinders versorg, die wat dit nie doen nie, en mense wat nie grootouers is nie. In die proses word 276 deelnemers getoets, eweredig verdeel tussen mans en vroue, met die betrokke kleinkinders nie ouer as vyf jaar nie. Die navorsers beoog om die vlakke van fisiese aktiwiteite ( lig, matig en intens) te meet, sittende gedrag, en die lewensgehalte van die betrokkenes. Die doel is om te bepaal of en hoe fisiese aktiwiteite in hierdie omstandighede toeneem, en om dan ‘n nasionale veldtog te begin wat volwassenes op gevcorderde leeftyd kan help om hul gesondheid te verbeter.

Aan die Universiteit Ghent, ook in België, is ‘n soortgelyke projek reeds halfpad voltooi. Die doel is om fisiese aktiwiteite tussen grootouers en kleinkinders aan te moedig. Navorsers meen die projek sal nie alleen die fisiese aktiwiteite en kognitiewe funksies van grootouers verbeter nie, maar ook hul motivering, psigososiale welstand, tesame met die gehalte van die verhoudings tussen hulle en hul kleinkinders ‘n hupstoot gee. Hulle het reeds bevind veral oumas se gesondheid verbeter indien hulle selfs sonder fisiese aktiwiteite tyd saam met hul kleinkinders bestee.

Die Post berig voorts in ‘n opname wat gedoen is deur die Ekonomiese en Maatskaplike Navorsingsraad van Brittanje, waarby 6,567 oupas en oumas ouer as 50 jaar met minstens een kleinkind, in Oostenryk, België, Duitsland, Denemarke, Spanje, Frankryk, Italië, Griekeland, Nederland en Swede, is bevind oumas wat by kleinkindversorging betrokke is, se fisiese gesondheid is baie beter as die wat dit nie doen nie. Ander opnames versterk hierdie bevindings. In een is bevind die kanse dat grootouers wat regstreeks interaksie met kleinkinders het, vyf jaar later nog lewe, is baie groter as die wat onbetrokke bly.

Interessante gegewens. Nog nooit so daaraan gedink nie. Nietemin bly dat ons in die bevoorregte posisie is om dit te kan doen. En bitter jammer vir oupas en oumas wat hul kleinkinders feitlik nooit sien nie.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button