Ek het besluit om tot so laat as moontlik te wag voordat ek hierdie rubriek skryf, sodat ek kommentaar van besoekers aan die Watergat kon kry oor die 33 lede van die Springbokspan wat aan die Wêreldbeker-toernooi gaan deelneem. Die spertyd het my egter ingehaal, die span word eers oor drie ure aangekondig, en ek verwys na menings voor die aankondiging.
Hier in die Watergat was die grootste debat oor die vleuels. Sommiges meen Makazole Mapimpi moet plek maak vir Canan Moodie, om hom dan aan te sluit by Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse. Moodie is ‘n fantastiese speler, maar Mapimpi het die ervaring en is steeds ‘n moeilike man om van die doellyn af weg te hou. Die meerderheid hier stem saam met my. Daar was ook talle bespiegelings oor die skrumskakels. Van die besoekers dink Faf de Klerk moet plek maak vir iemand anders, maar ek kom agter die grootste beswaar teen hom is sy Speedo en lang blonde hare. Hy hoort in die span, saam met ons eie Sharks-blitsbuks Grant Williams en Jaden Hendrikse. Dit laat ongelukkig vir Cobus Reinach in die koue. Losskakels het ook wye bespiegeling uitgelok. Gaan Handrè Pollard gereed en wedstrydfiks wees? Indien hy herstel het van sy besering, moet hy daar wees as die senior man, saam met Manie Libbok, ten spyte van lg. se swak skopwerk pale toe verlede week.
Ons heelagters is Willie le Roux, en Damian Willemse, lg. wat ook in ander posisies soos losskakel kan speel. Die senters Andrè Esterhuizen, Lukhanyo Am, Jesse Kriel en Damian de Allende. Ek is nie so entoesiasties oor Kriel nie, maar hy is ooglopend ‘n gunsteling van Rassie-hulle. In my beskeie mening is Damian Willemse ‘n skitterende senter, die posisie waarin hy in sy jong dae die oog gevang het. Die agtstemanne behoort Duane Vermeulen en Jasper Wiese te wees, met Evan Roos die ongelukkige weglating. My slotte is Eben Etzebeth, Lood de Jager, RG Snyman en Franco Mostert. Stutte Vincent Koch, Ox Nche, Trevor Nyakane, Frans Malherbe en Steven Kitshoff. Hakers Malcolm Marx en Bongi Mbonambi. Sal graag wil sien hoe die Watergat se span van die amptelike span verskil. Die goeie nuus is die vyf spelers uit die groep van 38 wat dit nie maak nie, gaan saam oorsee en sal onmiddellik beskikbaar wees indien nodig. Die flanke Jean-Luc du Preez, Pieter-Steph du Toit, Kwagga Smith en Siya Kolisi, die kaptein, wat volgens berigte van sy besering herstel het.
Die Watergat sien ongelooflik baie uit na die toernooi. Ons het drie nuwe groot grootskerm- hoë defenisie-TV’s met ‘surround-soundbar’-klank. Voel of jy op die veld sit.
Ons glimlag van die week kom van Gert Smallberger van Nelspruit wat elke Augustus Suidkus toe kom, en minstens elke tweede dag hier ‘n skuimkop kom drink. Hy hou van die atmosfeer, sê hy. Hy het vertel van Jan , ‘n prokureursklerk, wat met ‘n blou oog op kantoor kom. ‘En dit?’ vra sy kantoormaat. ‘Man, ek is nou net met die vuis geslaan deur ‘n vrou in die hysbak.’ ‘Hoe so?’ vra die maat. ‘Die vrou was baie mooi gebou, en ek kon nie help om na haar mooi borsmaat te kyk nie. Ek was heel ingedagte toe sy ma vra: ‘Sal jy nommer een druk, asb?’
Like the South Coast Fever’s Facebook page