South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece by Wouter Willemse.

Die jaar is reeds meer as halfpad verby, en ons is nou stewig op pad Kersfees toe. Vir die soveelste, miljuisenste keer in my lewe dink ek daaraan en sê dit hardop: ‘Die tyd gaan darem vinnig verby’. Sug.

Een onderwerp wat vandeesweek druk onder bespreking was hier in die Watergat, was die hoeveelste keer dat Julius Malema gesing het ‘Kill the farmer, kill the boer’. Dit is inderwaarheid verstommend dat hy nog elke keer daarmee weggekom het, ten spyte van klagtes wat op verskeie plekke aanhangig gemaak is, die besonderhede waarvan ons nie hier plek het nie. Die feit is egter hy het dit weer gedoen, en ek moet sê, toe ek dit hierdie keer op TV sien, het ek ‘n wrewel in my voel opstoot. ‘n Wrewel wat ek my kan voorstel by soldate ontstaan wanneer hul makkers deur die vyand om hulle doodgeskiet word. Daardie gevoel om wraak te neem en die vyand in eie munt terug te betaal. Te verpletter.

Nou dat ek beter voel, en weer realisties dink, is ek bly die DA wil Malema by die VV gaan verkla. Waarskynlik sal niks in die praktyk gebeur nie, maar sy uitlatings sal minstens aan die internasionale groot klok gehang word. ‘n Interessante en welkome verwikkeling is die toetrede van Elon Musk, die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr, tot hierdie debat. In reaksie op ‘n prominente Amerikaner se kritiek teen Malema se uitlatings op Twitter, het Musk gesê ‘They are openly pushing for the genocide of white people in South Africa’ en President Ramaphosa gevra ‘Why do you say nothing?’. Hierdie Tweet is duisende kere hertweet. Kom ons hoop dit maak die president wakker. Want die vet weet, Malema moet gestop word. Hy is op die oomblik die grootste gevaar in die land.

Rugby. Wat kan ‘n mens sê? My eie mening oor die Springbokke wou ek vroeër reeds opper, maar het besluit om te wag totdat ek doodseker is. Na verlede week is ek seker: die Springbokke gaan net voldoen aan verwagtinge wanneer die heel beste span van die begin af, elke wedstryd, op die veld is, en plaasvervangers na gelang van behoefte opgestuur word. Ek kan verstaan waarom Rassie en Jacques die strategie van twee spanne en die ‘Bomb squad’ volg, en ek het nie probleme daarmee nie. Dis eenvoudige real-politiek. Want indien hulle dit nie doen nie, kan daar nie aan die sg. transformasie-kwotas voldoen word nie. Ons moet net nie soos bv. voor die wedstryd teen Australië en verlede week teen Argentinië groot oorwinnings vir die Bokke voorspel nie. Dit kan net gebeur wanneer die heel beste span op die regte tyd op die veld is. Kom ons hoop dit gebeur tydens die Wêreldbeker-toernooi wanneer dit saakmaak. Veral wanneer ons teen die All Blacks speel. Myns insiens is hulle die span wat geklop moet word. Gevaarliker as Frankryk of Ierland.

Die glimlag van die week kom van Santa Krause van Manaba: ‘n Blonde meisie bel Pure Venom oor ‘n slang in haar huis. ‘Beskryf die slang vir my asseblief’, vra die man haar. ‘Man, hy’s redelik lank en baie dun van bo tot onder,’ kom die antwoord.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button