South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece.

Die blydskap was verlede Saterdag groot toe die Springbokke Wallis goed afgeransel het. Daar was nie plek vir die spreekwoordelike muis in die Watergat nie, die atmosfeer was gemoedelik en die kasregisters het gesing. Veral lg. het my ekstra-bly gemaak, want dit help om my ‘n finansiële kussing vir die komende stil maande te gee. Die Wêreldbekerwedstryde in September sal my bankbalans finaal uit die ‘rooi’ uitlig, en met ‘n bietjie geluk en die wind van agter sal die Watergat dan so gesond wees soos voor die Covid-epidemie. Dis egter ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Ek moet erken hoewel ek bly was oor die Springbokke se oorwinning verlede week, was daar diep in my binneste die wete dat ons steeds nie ‘n spesialis-stelskopper het nie, en dat verskeie spelers in die komende weke nie in normale posisies gaan speel nie. Soos Canan Moodie Saterdag. Dit boesem nie by my vertroue in nie, ten soyte van Oom Pottie se versekerings ‘Rassie en Jacques weet wat hulle doen’. Ek wens soms ek weet wat hulle doen. Volgens berigte is Handré Pollard se besering iets van die verlede en is hy gereed om te speel. Wanneer? Gaan ‘n Springbok Saterdag of later ‘beseer’ raak om plek te maak vir Pollard? Dan Siya Kolisi. Hy het Saterdag skitterend gespeel en gewys sy besering het genees, maar waarom die noodlot tart en hom Saterdag laat speel, teen die magtige All Blacks, in ‘n oefenwedstryd? Hou hom vir die toernooi. As hy Saterdag weer beseer word, en die kanse is goed want die Springbokke gaan hulle teen ‘n swart muur vasloop, is sy deelname aan die komende toernooi in die gedrang.

My groot bekommernis is egter dat daar te veel waarde geheg word aan verlede Saterdag se oorwinning. Ons moenie vergeet nie Wallis het eintlik swak gespeel met ‘n klompie onervare spelers. Pottie sê ek is te negarief, maar in hierdie stadium glo ek nie die Springbokke gaan die komende Saterdag wen nie. Trouens, ek is vas oortuig daarvan die All Blacks gaan die Wêreldbeker wen. Indien nie hulle nie, Ierland of Frankryk. Ek hoop die Springbokke bewys my verkeerd, dalk Saterdag, maar ek twyfel. My gevoel is ons gaan na die wedstryd hier sit en wonder wat verkeerd geloop het.

Ons glimlag van die week kom van ‘n besoeker uit Clarens, Wim van Houten: ‘n Jong vrou moet een aand deur ‘n begraafplaas loop om betyds by ‘n funksie uit te kom. Maar sy is bang. Skielik sien sy ‘n man by die ingang op ‘n bankie sit. Hy vra haar wat verkeerd is. Sy vertel hom. ‘Nee poplap,’ antwoord hy vriendelik, ‘daar is niks waarvoor jy bang hoef te wees nie. Hierdie mense is almal dood, en kan jou niks doen nie. Ek sal saam met jou stap.’ So gesê, so gedaan. Toe hulle by die uitgang kom, bedank sy hom en vra wat hy by die begraafplaas doen. ‘Ag jy weet, ek het eintlik nie ‘n keuse nie. Toe ek nog geleef het, was ek ‘n loodgieter, maar nou help ek maar mense soos jy’.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button