South Coast Fever

Stiltetyd: Herinneringe

Opinion piece by Oom Kallie.

“Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou om my te onthou.” So lui ’n reël uit een van Laurika Rauch se liedere. Die lied is gesing met ’n bepaalde oogmerk. In die Bybel is daar ook ’n lied wat ons vra om te onthou. In Psalm 111 onthou die digter die grootheid en indrukwekkendheid van die Here se werke.
Ons kan so maklik vergeet van die verlede. Wanneer ons vergeet van waar ons gekom het, kan dit maklik gebeur dat ons ondankbaar word of moed verloor. Dis een rede waarom ons soms moet reflekteer op die pad waarlangs ons gekom het tot nou toe.

As jy vir ’n oomblik sou stil word en die gang van jou lewe in oënskou sou neem, wat onthou jy? Dalk is dit ’n moeilike oefening. As mens terugdink aan die verlede is daar natuurlik talle emosies, beide positief en negatief wat by jou opgeroep word. Dit gebeur deesdae baie by roudienste dat foto’s van ’n afgestorwene met ’n skyfie vertoning flits op die skerm. Jy kan die rou emosies op mense se gesigte sien as hulle terugdink aan die lewe van hul geliefde. Soms dink ons terug aan wat was in Suid-Afrika en dit roep ook allerhande emosies, positief en negatief op.

Psalm 111:1-3 roep ook die gelowige op om die indrukwekkende werke van die Here in herinnering te roep. Hy sê dat dit ’n bron van nadenke is vir almal wat hul vreugde daarin vind. Dit is veral die feit dat die gelowige Israel op God kon reken in die verlede.

Hy het hulle uit Egipte verlos. Hy het hulle gedra van dag tot dag. Nie net in sonskyndae het hy hulle gedra nie, maar ook in dae wat dit moeilik gegaan het. Neem vandag tyd om na te dink oor die weg waarlangs die Almagtige ons land, jou gesin, jou gemeente, jou familie tot hiertoe gelei het. Die feit dat jy dit kan doen, is klaar rede tot dankbaarheid en lof. Uiteindelik let Christene ook na die gekruisigde en opgestane Here Jesus Christus se lewe. Jesus Christus het ons kom vrymaak van die bande van sonde en dood. Dit alleen is rede tot lof.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button