Stiltetyd: Jou rol in jou gemeenskap
Het jy ’n impak op die gemeenskap waar jy leef en woon of werk? Daar is mense, vrywilligers, wat hul tyd en kragte beskikbaar stel om ’n verskil te maak aan die omgewing en ander se lewens....
Het jy ’n impak op die gemeenskap waar jy leef en woon of werk? Daar is mense, vrywilligers, wat hul tyd en kragte beskikbaar stel om ’n verskil te maak aan die omgewing en ander se lewens. Die omgewing of die siekes of die skole, of die sportklubs, ook die kerke, vind baat by hul onbaatsugtige diens. Dit is hulle wie se bydrae gemis sal word die dag as hulle vertrek of sterf. Die Bybel praat in Psalm 112 van mense wat ontsag het vir Here.
Juis omdat hulle ontsag het vir die Here maak hulle ’n impak. Hulle verstaan dat hulle uit genade gered is en juis daarom nie maar net kan verbruikers wees nie, maar mense wat waarde toevoeg tot ander se lewens. Christene veral besef hoe duur die offer van Christus was en hoe Sy onbaatsugtige ander se lewens op ’n positiewe manier aangeraak het. Gelukkig is die mens wat ontsag het vir die Here en vreugde vind in Sy gebooie. Sy nageslag sal magtig wees in die land. Die appel val mos nie ver van die boom nie. Is daar nie waarheid in die gesegde nie? Kinders aard na hul ouers. In die Ou Testament veral by die feeste van oud Israel was daar gereeld gesprekke tussen vaders en hul kinders oor waarom hul God dien. Hoe verloop die gesprekke wat ons aan tafel voer? Positief of negatief?
Leef ons met vrees of verwagting op die toekoms? Mense wat met vrees leef het nog nie volmaakte liefde nie, skryf die apostel Johannes in sy sendbriewe. Mense wat glo dat die toekoms in die hande van die Almagtige God en Vader van ons Here Jesus Christus is, slaan die hand aan die ploeg, plant nou ‘n vrugteboom waaraan die nageslag kan smul. Hulle leef met die wete dat nog lewe, nog dood, nog toekomstige dinge, nog diepte of hoogte hulle van die liefde van God in Christus kan skei. Val die aandelebeurs? God sal Sy kinders nie in die steek laat nie. Ek het steeds genoeg om uit te deel aan ander. Ek is geseën om te seën. Hoe lyk die impak wat jy as geroepene van God het op ander se lewens?
Like the South Coast Fever’s Facebook page
