South Coast Fever

Moet matriek-afskeidsfunksies nie afgeskaf word nie?

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die seisoen van matriekdanse en ‘after parties’ is reeds geruime tyd aan die gang, en in ons omgewing het ek ouers hoor brom oor die koste daarvan – sommiges het ‘n jaar lank gespaar om vir hul dogter ‘n rok van R20 000 te koop. ‘n Ma met wie ons bevriend is, moes amper R2 000 opdoek net vir die dogter se haar-, nael en velversorging. ‘n Ander gesin se seun het R4 500 vir ‘n snyerspark betaal, wat verwoes is toe hy op ‘n ‘after party’ te veel alkohol ingekry, in ‘n swembad geval en ‘n dag in die hospitaal deurgebring het.

Die uwe het enkele jare gelede gevra of dit nodig is dat matriek-afskeidsgeleenthede so uitspattig en duur moet wees. Ek vra dit nog steeds. Is hierdie byeenkomste werklik nog ‘n sosiale geleenthede en ‘n mylpale in jongmense se lewens waartydens hulle totsiens sê aan hul skoolloopbane en vriende, baie van wie hulle na die eksamens nooit weer sal sien nie? In ‘n formaat waarvolgens almal op gelyke voet kan deelneem, hulself gate uit kan geniet, met alkohol, indien nodig, behoorlik gekontroleer deur ouers tydens die sg. ‘after-party’?

Of het dit ontaard in byeenkomste waar ouers met mekaar meeding om hul kinders te laat uitstaan bo die ander met peperduur ontwerpersklere en spoggerige motors, selfs helikopters, as vervoer? Die uwe weet van gevalle waar vuurwaens soos Ferraris en Lamborghinis, spesiaal-gemaakte nommerplate met die name van die paartjie daarop, en selfs helikopters gehuur is teen astronomiese tariewe, as vervoer na en van die matriek-afskeid. Fortuine word bestee aan ontwerpersrokke, soms twee ( een vir die afskeids-geleentheid en een vir die ‘after-party’), haarkappers, skoonheidsdeskundiges en wie ookal om pa en ma se poplap te laat uitstaan bo die ander. Die matriekseuns word ook nie afgeskeep nie. Snyerspakke en –hemde wat James Bond sal jaloers maak en nuwe skoene duurder as die eerstejaar- studiegeld op universiteit, is algemeen.

Die voorstanders van die groot bederf met die matriekdans of –afskeid sê dis ‘n eenmalige geleentheid in ‘n jongmens se lewe, en indien die ouers dit kan bekostig, waarom nie? Indien die ouers dit wel kan bekostig, ja. Maar daar is talle gevalle, ook in die uwe se familie, waar die ouers dit nie kan bekostig nie, maar wel die astronomiese skuld aangaan ‘want ons wil nie hê ons kind moet minderwaardig voel nie’. Wat natuurlik ‘n geldige argument is, want wat gebeur met die matrieks wie se ouers dit nie kan bekostig nie, of uit beginsel nie soveel geld wil uitgee op ‘n matriekdans nie? Tensy hulle kinders baie volwasse in hul uitkyk op die lewe en goed deur die ouers perspektief gegee is oor wat wel saakmaak en wat nie, gaan daar beslis matrieks wees wat minderwaardig voel. Volgens ouers was daar gevalle waar meisies nie uitnodigings aanvaar het om ‘n seun se metgesel te wees nie, omdat die meisies liewer saam met die seuns wil gaan wie se ouers bv. die spoggerige motors kan bekostig, sodat hulle sodoende meer in die kollig kan wees.

Die teenstanders van die groot bederf, waarvan die uwe een is, meen die matriek-afskeidgeleenthede moet behoue bly, maar in ‘n heeltemal afgeskaalde format, met streng voorwaardes oor kleredrag. Daar is selfs mense wat voel die matriekdanse moet afgeskaf word, enersyds omdat dit inbreuk maak op hul voorbereiding vir die eksamen, veral in die tweede helfte van die jaar, en andersyds omdat dit dikwels ontaard in drank- en dwelmmisbruik, veral op die sg. ‘after party’ na die amptelike skoolfunksie. Oor die jare het talle matrieks gesterf in motor-ongelukke op pad huis toe na die ‘after-party.’

Enkele jare gelede was daar ‘n groot herrie toe die onderwysdepartement van KZN besluit het matriekdanse moet tot November uitgestel word omdat dit ‘n ontwrigtende invloed op die leerlinge se studies gehad het. ‘n Woordvoerder het gevra dat die formaat van die afskeidsgeleenthede in die toekoms hersien word. Talle skole het hulle nie hieraan gesteur nie, en tot dusver was daar nog geen reaksie van die onderwysdepartement nie , en gaan skole voort om die geleenthede te reel.

Uit gesprekke met verskeie ouers, is dit duidelik hoewel daar groot steun vir matriek-afskeidsfunksies in die huidige formaat is, is daar talle ouers wat baie bly sal wees indien die aard daarvan gewysig word. Of as dit selfs afgeskaf word. Nie noodwendig omdat hulle dit nie kan bekostig nie, maar bloot om beginselredes.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button