South Coast Fever

SA en KZN verloor ‘n swaargewig-staatsman

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die dood van die veteraan-politikus van KZN, dr. Mangosuthu Buthelezi, op 95-jarige leeftyd verlede week, was die einde van ‘n jarelange verbintenis tussen hom en die Suid-Afrikaanse politiek, en KwaZulu-Natal in die besonder. Weens die aard van my werk het die uwe die voorreg gehad om oor meer as 20 jaar interaksie met dr. Buthelezi te hê, het by verskeie geleenthede met hom onderhoude gevoer, en veral in die laat tagtiger en vroeë negentigerjare, hom verskeie kere by sy hoofkwartier en die KwaZulu-parlement in Ulundi besoek.

Hy is met reg na sy dood bestempel as ‘n kolos’ in die Suid-Afrikaanse politiek, en president Ramaphosa het groot hulde aan hom gebring, ten spyte daarvan dat die verhouding tussen dr. Buthelezi en sy Inkatha-party aan die een kant, en die ANC aan die ander, by tye uiters gespanne en soms toksies was. Tydens die apartheidsjare was hy die Hoofminister van die sg. onafhanklike KwaZulu-tuisland, en is deur sy teenstanders beskou as ‘n ‘uitverkoper’ met mag aan hom gegee deur die Suid-Afrikaanse regering. Hy is daarvan beskuldig dat hy geen opposisie vir Inkatha nie, die politieke party wat hy in 1975 gestig het, geduld het nie.

Hy het nietemin met die ANC saamgestem dat Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat moes word, en het hom deurgaans daarvoor bewyer. Hy was egter heftig gekant teen die ANC-beleid van internasionale sanksies en ‘n gewapende stryd, omdat hy daarvan oortuig was daarvan dat dit swart Suid-Afrikaners benadeel het, en was sterk anti-Kommunisties. Tydens die oorgang na ‘n veelparty demokrasie in die negentigerjare, het hy geskop teen die erosie van sy mag en aangrdring op ‘n meer federale soort regering, met waarborge dat die status van tradisionele leiers gerespekteer sou word. Die ANC het nie saamgestem nie, tot 12 000 mense is dood in gewelddadige botsings tussen ondersteuners van die twee partye. Alle aanduidings was dat Inkatha koverte militêre hulp van die SA regering gekry het. Dr. Buthelezi is uiteindelik op die laaste nippertjie deur verskeie politici, onder meer mnr. Nelson Mandela en genl. Constand Viljoen, oorgehaal om aan die verkiesing van 1994 deel te neem. Hy het uiteindelik ook deelgeneem aan die regering van nasionale eenheid na 1994, en ten spyte van voortdurende spanning, was hy tien jaar lank die Minister van Binnelandse Sake. Inkatha, toe bekend as die Inkatha Vryheidsparty, het stadig maar seker agteruit gegaan. Dr. Buthelezi het verskeie pogings om hom as president van Inkatha te onttroon, oorleef, maar het uiteindelik in 2019 uitgetree as een van die groot en ware ‘oorlewendes’ in die SA politiek.

Dr. Buthelezi is op 27 Augustus 1928 in die suidooste van die destydse Zoeloeland gebore. Sy moeder was prinses Magogo kaDinzulu, die suster van die Zoeloekoning. Hy is in die sendingskool Adams College opgevoed waarna hy aan die Universiteit van Fort Hare gestudeer, en hom by die ANC aangesluit het. Hy is later geskors weens sy politieke aktivisme, het na Zoeloeland teruggekeer en is in 1954 deur Koning Cyprian as sy tradisionele eerste minister aangestel. Hy is getroud met Irene, ‘n verpleegster van Johannesburg, en het as ‘n praktiserende Anglikaan nie met meer vroue, soos die tradisie was, getrou nie. In die tuisland-opset is hy opgeneem in die uitvoerende gesag, het as Hoofminister ‘n sterk magsbasis opgebou, met ‘n ysterhand regeer en volstrek geweier om onafhanklikheid te aanvaar. Daar is baie meer om oor sy lewe te sê, maar weens ‘n gebrek aan ruimte, volstaan ek hiermee.

My eie ervaring van hom was aangenaam. Hy was ‘n beleefde, hoogs-intelligente, beskaafde en godsdienstige mens. Wanneer hy met die SAUK wou kommunikeer, het hy my persoonlik gebel en gevra of ons nuusmense nie Ulundi wil besoek nie. Tydens hierdie besoeke het hy ons soms geroskam oor iets waarmee hy nie gelukkig was nie, of vertroulike agtergrond-inligting gegee oor tersaaklike gebeure. Tydens middagete het hy dan in ‘n ontspanne luim saam met sy ministers met ons oor alles en nog wat gesels. Hy het geen geheim van sy Christenskap gemaak nie, het nie gerook of alkohol gebruik nie, en was van vroeg in sy lewe af ‘n suikersiektelyer. Dr. Buthelezi het Afrikaans redelik verstaan saam met feitlik al die ander landstale, en hy het my op ‘n keer meegedeel hy het ‘n sagte plekkie in sy hart vir Afrikaners gehad.

As ‘n politikus was hy dikwels ‘n perd van ‘n ander kleur. Onverbiddellik, soms dwarstrekkerig en diktatoriaal. Hy het nie teenkanting maklik geduld nie, en nie geskroom om ongewilde politieke standpunte in te neem nie. Hy het gereeld lang toesprake in die KwaZulu-parlement gelewer, wat in Engels getolk is, een van hulle het letterlik ‘n week lank geduur. Ek sal nooit die dag in 1979 vergeet toe ‘n groep joernaliste, in ons pakke, dasse en al, op ‘n snikhete dag in die stof voor ‘n politieke verhoog op Ulundi gesit het, eers met gespierde Zoeloekrygers wat ‘n oorlogsdans, spiese en al, om ons uitvoer, en daarna as aanhoorders van ‘n lang, emosionele toespraak waarin hy die NP-regering, mnr. P.W. Botha, die eerste minister, en ander kabinetslede op die verhoog, behoorlik roskam, onderwyl hulle donderweer op hul gesigte gehad het. My eie Piet Retief-oomblik.

Hy was ‘n ware politieke swaargewig. Mag hy in vrede rus.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button