In ’n bekende televisieprogram is die aanbieder lief daarvoor om mense na hulle siening van God uit te vra. In Psalm 115 vertel die digter ons wat sy siening oor God is en hy beklemtoon God se bestendigheid en liefde. “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan U naam kom die eer toe, oor u troue liefde, oor u bestendigheid.” So staan dit in Psalm 115:1en 2 geskryf. Die konteks van die Psalm is waarskynlik die tyd toe Israel in ballingskap was en die vreemde gode van die Babiloniërs skynbaar die oorhand oor Israel gekry het.
Hulle is uitgelok met die koggelvraag: “En waar is julle God dan?” Die vraag is ingebed in ’n situasie van nood en vrees. Die leedvermakerige vraag van die spotters word beantwoord met die uitspraak dat God in die hemel is en alles doen wat hom behaag. Kan ons ons die geestelike wroeging van hierdie mense voorstel? Hulle is verslaan en verneder. Nou word daar nog gespot met hulle godsdiens. Oor en oor moes hulle hoor dat die Here nie bestaan nie; dat Hy oorwin is, nie meer in hulle belangstel nie en weg is. “Waar is julle God nou?”
Is dit nie soos baie van ons mense ook vandag voel nie? In ons tyd word dieselfde woorde miskien nie gebruik nie. Die omvatting word nie meer gehuldig dat die een god die ander oorwin het nie. Die vraag spook eerder in ons eie gemoedere. Veral as dinge in die lewe nie uitwerk soos ons dit vir ons voorsien het nie. Dit is in sulke tye waar ons onsself gerus kan herinner aan God se bestendigheid en trou. Die belydenis dat God in die hemel is, beteken nie dat Hy ver van ons af is of nie begaan is oor die lotgevalle van Sy mense nie.
As Nuwe-Testamentiese gelowiges sien ons Sy liefde en bestendigheid in die lewe en sterwe van Jesus Christus. Hy is aan die Allerhoogste God se regterhand. Ook as koggelstemme van binne ons eie harte of van buite, ons spoed wil breek, kan ons hieraan vashou: God gee om. Die kruis van Christus is die teken van Sy liefde en bestendigheid.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
