Watter Psalm in die Protestantse Bybel is ongeveer in die middel van die Bybel en is die korste Psalm? As jy kan vluglees, sal jy seker al die antwoord kon gegee het. Dit is Psalm 117. Dit is die moeite werd om die Psalm te memoriseer, want ons vergeet so gou van die goedheid van die Here. “Loof die Here, alle nasies, roem Hom alle volke, want magtig oor ons is Sy troue liefde, ja, die trou van die Here is vir ewig.”
Teleurstelling met God of ontnugtering oor die lewe, of terugslae, het hul manier om ons te laat voel dat die Here ons vergeet het. Dit was die klag van menige van God se mense veral ook in die Ou Testament. Dit is ook waar van ons dag. Ons raak so maklik verstrengel in allerlei dinge. So besig met ons eie lewe, ons eie ideale. Ons word so vasgevang in ons situasie en ons redenasies en maak ons dinge soms so verskriklik gekompliseerd.
Dan is ons soos iemand wat in ‘n digte bos verdwaal. Ons loop in sirkels rond en ons sien nie meer uitkoms nie. Dit is wanneer mens moedeloos en paniekerig word. Jy verloor perspektief en jy word angstig.
Dan is dit nodig dat ons van tyd tot tyd opnuut perspektief kry. Soos ‘n arend baie hoog sweef en ‘n arendsblik het, sien dat hierdie digte bos is nie so eindeloos groot nie. Daar is ‘n pad daaruit. As ons ‘n arendsblik het en weet dat ons ook uit hierdie digte bos sal uitkom, dan kan ons rustig wees. Dan kan ons die digte bos waardeer en geniet. Ons geniet die detail, juis vanuit die perspektief van die geheel.
Dit is wat Psalm 117 vir ons wil leer. Psalm 117 bied weer aan ons perspektief op die lewe. God se liefde is onmeetlik groot ten spyte van ons ontrou. Daarom kon die gelowiges in die Ou Testament ook jubel in die Here al het die vyeboom nie gebot nie. God se trou in Christus is oneindig. Soos God se liefde oorweldigend groot is, is Sy trou iets waarvan ‘n mens nie by die einde daarvan kan kom nie. Eien dit toe, vandag.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
