South Coast Fever

Noue ontkomings

Opinion piece by Oom Kallie.

Dalk het jy al ’n noue ontkoming in jou lewe beleef? Die lewe is vol noue ontkomings. Dit kan wees dat jy nouliks ontkom het aan ’n motorongeluk. Die seestroom het jou byna ingetrek. Jy het amper jou vingers in ’n transaksie verbrand. Jy sou self ander voorbeelde kon byvoeg. Psalm 118: 5 vertel van ’n situasie waar die digter in sy angs na die Here geroep het en die Here hom geantwoord het en vir hom ruimte gemaak het.
Op ’n ander plek in die Psalm praat hy van ’n situasie waar hy en die mense by hom soos bye omsingel is. Wie al deur bye gejaag is wat kwaad gemaak is, sal met so ’n situasie kan identifiseer. Daar is talle soortgelyke krisisse en noodsituasies waarin ’n gelowige hom of haar kan bevind. In al hierdie situasies is daar egter uitkoms en daarom is die Psalm in die vorm van ’n loflied gesing waar die volk van die Here in die tempel bymekaargekom het. Psalm 118 is deur alle eeue heen deur die gelowiges gesing. Van die Ou-Testamentiese tyd, in die vroeë Christelike kerk, reg deur die Reformasie en daarna.

Van Psalm 118 het Martin Luther gesê: “This is my psalm which I love – for truly it has deserved well of me many a time and has delivered me from many a sore affliction when neither the Emperor nor kings nor the wise nor the cunning nor the saints were able or willing to help me.” Daar is vandag baie situasies en omstandighede wat gelowiges beroof van die vreugde om te sing. Ons vreugde word weggesteel deur lewensituasies wat soms dreig en grom om ons.
Wanhoop, moedeloosheid met ons situasie, ongeloof, asook die feit dat ons ons fokus op God verloor, neem ons vreugde weg. Die bidder van Psalm 118 beklemtoon een van die mees fundamentele aspekte van die Christelike geloof – en dit is dat uitkoms van God alleen kom. By die kruis en die oop graf van Jesus Christus het God vir ons ruimte gemaak. Die vroeë kerk het ook troos in hierdie Psalm gevind. Dalk verkeer jy vandag in groot benoudheid. Mag God vir jou ruimte maak en Hy sal.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button