Dis nog steeds Rugby-wereldbekerkoors hier in die Watergat. Die lang tye tussen die wedstryde waarby Suid-Afrika betrokke is, veroorsaak groot ongeduld onder ons, maar dis nou eenmaal die werklikheid. Rugby is nie ‘n spel soos krieket waar jy in die Wêreldbekerreeks, soos nou die geval is, feitlik daagliks wedstryde, soms twee per dag, kan speel nie. Die aard van die twee sportsoorte is heel anders, daar is bv. nie fisieke kontak nie en spelers hoef nie dae gegun te word om hul liggame te laat rus nie.
Ewenwel, die Bokke is deur na die kwarteindronde en hul nederlaag teen Ierland bring mee dat hulle teen Frankryk pleks van die All Blacks in die kwarteindronde speel. Ierland speel nou teen die manne in swart, en indien hulle wen en ons klop die Franse, is dit weer ‘n wedstryd tussen ons en die Iere. Die voordeel is dan dat hulle die All Blacks uit ons pad gehaal het. My voorgevoel sê egter vir my die All Blacks gaan die Iere verslaan.
Die vraag is net of ons die Franse met Antoine Dupont, hul inspirerende kaptein en beste skrumskakel ter wêreld, terug in hul span, boonop voor ‘n fanatiese tuisskare kan wen. My hart sê vir my ja, maar my verstand skreeu nee. Indien ons dit wel regkry, moet ons, soos reeds genoem, nog by die Iere of All Blacks, waarskynlik lg., verbykom. Oom Pottie en van ons besoekers sê ek is ’n bangg*t-verraaier, maar dis hoe dit is. Ek dink die Bokke se kanse om die beker te wen, is nie meer as 40% nie. Maar kom ons kyk. Die groot jammerte, soos verlede week genoem, is dat drie van die sterkste spanne reeds voor die half-eindronde uitgeskakel sal wees.
Ons loopstorie kom van Bert en Santa Germishuys van Clarens: ‘n Huurmotorbestuurder antwoord ‘n non se oproep. Toe sy in die motor klim, merk sy op dat die uiters-aantreklike taxi-bestuurder aanhoudend na haar staar. Die non vra hom waarom. ‘Ek wil jou ‘n vraag vra, maar ek is bang jy neem aanstoot,’ antwoord hy. ‘My seun,’ sê die non, ‘as jy so oud is soos ek, is daar min wat jy nog nie ervaar het nie.
Ek is seker daar is niks wat jy kan sê of vra wat my sal aanstoot gee nie.’ ‘Wel suster’, verklaar hy, ‘ek het nog altyd ‘n fantasie gehad oor hoe dit sou voel indien ‘n non my soen.’ Die non kyk hom aan. ‘Daar is net twee voorwaardes….jy moet ongetroud en ‘n Katoliek wees.’ Die huurmotorbestuurder is kwaai opgewonde. ‘Ja, ek is enkel en ‘n Katoliek!’ ‘Goed, stop daar onder die boom in die donker.’ Die non voldoen aan sy fantasie met ‘n soen en nog ietsie wat ‘n prostituut sou laat bloos.
Terug op die pad, is die taxi-besuurder stil. Skielik begin hy emosioneel word en huil. ‘Vergewe my asseblief, ek het gesondig. Ek het gejok. Ek is getroud en is Joods.’ ‘Ag man, vergeet dit, liefie. Ek het ook gejok. My naam is James en ek is op pad na ‘n kostuumbal.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
