Soms voel dit of mens in die duister rondtas. Ander kere voel dit of jy net ’n paar treë voor jou kan sien op jou lewenspad. In Psalm 119:9 lees ons: “Hoe sal ’n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u Woord. Daar is ook ander teks uit die Psalm (Ps. 119:105) wat lui : “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my lewenspad.” In die wêreld waarin die Psalmis hom bevind het, was daar behoefte aan lig.
Straatligte was nie deel van die landskap nie. Hoogstens was daar die maan en die sterre en die flou liggies van lampe in huise. Die donker was ’n bedreiging. In ’n wêreld waar daar oral lig is, (behalwe as Eskom af is) is dit gerusstellend dat mens voor jou kan sien. Dit verhinder, maar verhoed nie, op ’n manier ook misdaad. In die moderne wêreld waarin ons lewe is daar egter steeds lewensbedreigende situasies. Koos du Plessis sing van die donker wat van buite kom en deur die ruite syfer en flikkerende skadu’s teen die muur gooi.
In ’n deurmekaar wêreld word ons kort-kort herinner aan die donker. Dit kan bomme in Israel wees, of ’n plaasaanval, of ’n dreigende egskeiding, of ’n dokter se diagnose wat die donker deur die ruite laat syfer. Wat maak mens as die donker in jou lewe deursyfer? Kinders van die Here hou vas aan God se beloftes dat Sy Woord ’n lamp is wat die donker verdryf. ’n Lamp maak lig hier naby my. Ek moet egter tree vir tree in daardie lig loop.
Ja, daar is nog duisternis in die wêreld. Die troos van God se beloftes beteken nie dat die donker eensklaps gaan verdwyn nie. Dit troos ons egter dat ons nie in die duister hoef te tas nie. As ons bekommerd is, is daardie troos dat God sorg, soos Sy Woord belowe. As ons nie verder weet nie, kan ons die Here vir ons dag se brood vertrou, want Hy lei ons tree vir tree. Baie keer wil ons ver vooruitsien. Wie die Bybel lees en die Skrywer herken, het die Lig vir die wêreld gevind en tas nie meer in die donker rond nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
