Wouter se Watergat
Goeie genade. Ons hier in die Watergat was die tweede keer binne ‘n week senuweewrakke. Hoe die Bokke dit twee weke na mekaar vermag het om ‘n oorwinning uit die kake van ‘n nederlaag te gryp, weet nugter. Maar dit het gebeur, en ons is saam met die hele Suid-Afrika in ekstase.
Goeie genade. Ons hier in die Watergat was die tweede keer binne ‘n week senuweewrakke. Hoe die Bokke dit twee weke na mekaar vermag het om ‘n oorwinning uit die kake van ‘n nederlaag te gryp, weet nugter. Maar dit het gebeur, en ons is saam met die hele Suid-Afrika in ekstase. Die arme Engelse. As Owen Farrell en Tom Curry nie in die span was nie, sou ek hulle jammer gekry het.
Ewenwel, die Bokke was in albei die uitspeelwedstryde baie gelukkig om te wen. ‘n Groot rede was die teenstanders het vroeg ‘n greep op die wedstryd gekry, en die Suid-Afrikaners moes elke keer van agter af kom en met die hulp van hul ‘bomb squad’ die knoop deurhaak. Dit sal nie teen die All Blacks werk nie. Ons moet hulle vroeg-vroeg domineer en met ons agterlyn uitoorlê, anders is dit nag.
Dit beteken die Bokke moet met hul beste span op die veld draf. Van die eerste skrum en lynstaan af moet hulle met ons bestes te doen kry en ontsenu word sodat hulle foute maak. Die huidige All Blacks maak makliker foute onder druk as hul voorgangers, en dis waar ons heil lê. Die ander belangrike faktor is die Bokke het twee uitmergelende wedstryde na mekaar gespeel. Die All Blacks nie. Hulle sal fisiek en geestelik baie meer uitgerus wees. En gevaarlik.
Ons hier in die Watergat sou onder normale omstandighede ‘n nederlaag teen die Nieu-Seelanders kan verwerk, want die Bokke kan nie altyd wen nie. Maar hierdie keer is dit ‘n meer spesiale wedstryd as al die ander. Ons land het op die oomblik ‘n verenigende faktor nodig soos nog nooit tevore nie. Die Bokke se oorwinnings het reeds wondere verrig, maar nog ‘n Wêreldbeker sal ons jare se onderlinge welwillendheid koop. Mag dit tog gebeur.
Toe hierdie rubriek geskryf is, was daar nog geen uitsluitsel nie oor die lot van Bongi Mbonambi wat volgens Tom Curry ‘n rassistiese aanmerking oor hom gemaak het. Curry het by die skeidsregter gekla dat Mbonambi hom ‘n ‘white c**t’ genoem het. Dit lyk my na die spreekwoordelike storm in ‘n teekoppie, want ‘n klankopname wat deur ‘n Suid-Afrikaanse radiostasie ontleed is, toon Mbomambi het aan sy spanmaats óf ‘wyd kant’ (wide side) óf ‘wit kant’ (white side, aka England ) gesê om taktiek te bepaal sonder dat die Engelse verstaan.
SA Rugby en Wêreldrugby ondersoek die saak, en Mbonambi se deelname aan Saterdag se eindwedstryd is in die weegskaal. Wonder net wat sou gebeur het indien Mbonambi wit was, Curry swart en die verwysing na ‘n ‘swart kant’.
Ons loopstorie uit Oom Pottie se argief: ‘n Stokou-oom sit met sy kierie by die bushalte. Tok-tok-tok-tok kap die kierie, tot die ergenis van Koos, sy vrou en agt kinders wat net voor die omie in die tou staan. Die bus kom, en daar is net plek vir Koos en sy kroos. Net voor die bus wegtrek, sê Koos: ‘Oom, sit asb. ‘n stukkie rubber oor die punt van jou kierie. Jy irriteer almal.’
Blitsvinnig antwoord die Oom, toe die bus van hom af weg begin beweeg. ‘Pleks dat jy dit liewer gedoen het, dan was daar ook plek vir my!’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
