“Money, money, in a rich man’s world.” So lui die refrein van ’n lied uit die film: “Fiddler on the roof.” Ons lewe in ’n tyd waar daar skynbaar tienduisende miljoenêrs in die staatsdiens werk, dit is nou mense wat meer as een miljoen rand per jaar verdien. Daarteenoor leef miljoene Suid Afrikaners onder die broodlyn. Aan die eenkant word miljarde vermors of gesteel en aan die ander kant is daar mense wat op straat leë koeldrankblikkies versamel en verkoop ten einde net te oorleef. Al sê die Bybel op ’n plek dat geldgierigheid ’n wortel is van alle kwaad, bly die gebrek sowel as die oorvloed van geld, ’n saak wat almal se sakke en harte raak. Sonder om in te gaan op die teenstrydighede en gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika, is daar ’n ander saak wat ryk en arm raak. Dit is hoe ryk en arm hulle oorvloed aan geld of gebrek aan geld beoordeel. Geld het ’n manier om die speelveld gelyk te maak. Daar staan in Spreuke 22:2 die volgende geskrywe: ”Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak.”
Daar is ’n belangrike les wat armes en rykes moet leer. Doodskiste het nie ’n dakrak op waarop al jou besittings vasgeketting word nie. Ons almal is bestem om te sterf en daarna die oordeel. Soos die skrywer John Ortberg êrens vermeld het: “ When the game of life is over, it all goes back in the box.” Hy verwys na die tye toe hy en sy ouma die bordspel Monopoly gespeel het. Na almal duisende rande verloor en gewen het en huise en hotelle gebou het, is alles die aand na die einde van die speletjie weer in die “boks” gebêre. As jy geleef het vir jou geld sal jy bedroë daarvan afkom. As jou geld vir jou gewerk het en jy waar jy kon, dit wat jy ontvang het aangewend het vir ’n goeie doel, tot God se eer, sal jy ’n skat in die hemel hê. Voor die Here is almal gelyk, ryk en arm. Jy kan ryk wees al is jy arm of arm al is jy ryk.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
