Dit was redelik stil die afgelope week, met so ‘n halwe ‘rugby-moegheid’ wat duidelik waarneembaar was. Seker te verstane na die spanningvolle laaste drie wedstryde van die Wêreldbeker kompetisie en die feesvierings in verskillende Suid-Afrikaanse stede daarna. Myns insiens is die grootste bydraende faktor die swak vertoning van die Suid-Afrikaanse spanne, behalwe die Blou Bulle, in die Verenigde Rugbykompetisie.
Dis asof hulle in die buiteland net nie opgewasse is teen die oorsese spanne nie. Toe hierdie rubriek geskryf is, het die Bulle drie na mekaar gewen met goeie vertonings, maar was die Sharks en die Stormers wenloos, en het die Lions een oorwinning gehad wat in die laaste paar minute van die wedstryd deur die Scarlets ‘aan hulle gegee’ is. Oom Pottie se kommentaar.
Ons is uiteraard bekommerd oor die algemene toedrag van sake, maar dis die Sharks se futlose geploeter wat ons weemoedig maak. Die algemeenste vraag aan ons, veral deur besoekers van ander provinsies, is ‘wat gaan aan by die Sharks?’ Ons wens ons het geweet. Ja, hul Springbokke is nog nie terug nie, maar dieselfde geld vir die ander spanne. Die dollars het uit Amerika aanhou vloei na Durban toe, die Sharks het top-spelers onder kontrak, met Neil Powell as top-amptenaar en John Pulmtree as hoof-afrigter, maar sedert maande gelede reeds lyk dit asof daar iewers iets drasties verkeerd is. Ek het dit ‘n ruk gelede reeds genoem, maar die kanse is goed dat drastiese stappe op hande is. Die finansier in Amerika kry nie veel rente op sy aansienlike belegging nie, en ons ondersteuners is gatvol. Sug.
Twee ander onderwerpe van bespreking het bygedra tot my en Oom Pottie se swartgalligheid. Ons het die afgelope paar dae net gesit en luister na gesprekke tussen besoekers oor die Israelse oorlog teen Hamas, en die Amerikaanse politieke situasie, sonder om deel te neem. Dit was verstommend om te hoor hoe albei hierdie ingewikkelde gebeure sake oorvereenvoudig word as gevolg van wan- of oningeligtheid. In hierdie gesprekke was die sentiment feitlik deur die bank pro-Israel sonder inagneming van enigiets anders. Ja, Hamas se dade is onverskoonbaar, maar dit kan tog nie alles wat Israel doen, regverdig nie. Wat die Amerikaanse politiek betref, is dit verstommend hoeveel Suid-Afrikaners nog vir Donald Trump steun, sy leuens glo, veral sy refrein dat hy die 2020-verkiesing gewen het. Verskil van mekaar, ja. Maar op grond van feite. Die eenvoudige waarheid is Biden het die verkiesing gewen. Over and out.
Maar kom ons los die swartgalligheid. Al is dit net tot aanstaande week: Danie Kelfkens van Southport vertel Ou Oom Koos se selfoon lui laatnag. Toe hy dit uiteindelik op die bedkassie opspoor, gee hy dit net een kyk en sit dit weer neer. “Wie was dit?” vra sy vrou. “Bettie Louw”, sê hy. “Ek gaan nie antwoord nie, ek ken nie ‘n Bettie Louw nie.” Nie lank nie, of die foon raas weer. Oom Koos kyk en vloek. “Al weer die verdomde Bettie Louw!” Toe dit ‘n derde keer gebeur, sê sy vrou: “Gee hier, dat ek kyk!!!” “Ai man,. sê sy. “Dit is nie Bettie Louw nie, dis Battery Low”.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
