South Coast Fever

Die ‘Black Friday’-fenomeen groei tot ‘Black Fortnight’

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die uwe het sowat tien jaar gelede hier op die Suidkus die eerste keer aan die einde van November kennis geneem van ‘Black Friday’. Daar was skielik advertensies oral met die uitnodiging om winskopies te viering van ‘Black Friday’ op te raap. Soos ek destyds genoem het, met die eerste kennismaking van die naam het ek gewonder of dit ‘n rasse-konnotasie het. En of dit dalk die dood van iemand herdenk. By nadere ondersoek het ek uitgevind dit het sy oorsprong in Amerika, soos verskeie ander (myns insiens) slegte gewoontes of vierings, onder meer ‘Halloween’.

Ek het destyds en sedertdien aan die einde van November in toue in supermarkte en afdelingswinkels beland waar mense met trollies vol TV’s, huis-implemente, kruideniersware en ander ‘Black Friday’-‘winskopies’ geduldig gestaan en wag het om te betaal. Wat my mateloos geïrriteer het want ek wou bloot twee of drie alledaagse items koop. So met die verloop van tyd het die Pretoriusse bloot ‘Black Friday’ geïgnoreer, hoewel die fokus van die advertensiekampanjes stelselmatig groter as bloot ‘Black Friday’ geword het.

Verlede naweek het ek op verskeie advertensies afgekom, selfs op TV, waarin verwys word na ‘Black Fortnight’, en waarin mense aangemoedig word om nou reeds te begin koop ter viering van ‘Black Friday’, die laaste Vrydag in November. Die indruk word geskep dat daar oral geld te spaar is, terwyl net ‘n beperkte werklike winskopies beskikbaar is. Noem my outyds, uit voeling met die werklikheid, of watookal, maar veldtogte soos hierdie stuit my teen die bors. Nie dat die sake-ondernemings nie hul ware moet adverteer en verkoop nie, maar my probleem is dat mense wat dit nie kan bekostig nie, verlei en mkislei word om hulself verder die skuld in te dompel. Ek het voorbeelde daarvan in my eie sosiale omgewing. Om alles te kroon, is Kersfees op hande, met nog uitgawes op die horison.

Wat my argwaan vererger, is dat dit ‘n Amerikaanse gewoonte is wat absoluut niks met Suid-Afrika te doen het nie. Verskeie bronne gee verskillende verduidelikings. Almal stem saam die dag het ontstaan as gevolg van die Amerikaanse ‘Thanksgiving’ of Dankseggingsdag aan die einde van November. President Lincoln het destyds, nadat Dankseggingsdag op verskillende dae op verskillende plekke in Amerika gedenk is, bepaal dat dit op die laaste Donderdag in November sal wees. Die eerste keer toe die Vrydag na Dankseggingsdag ‘Black Friday’ genoem is, was in 1869 toe twee goudspekulante by name Jay Gould en James Fisk ‘n ineenstorting van die aandelemark veroorsaak en talle mense skielik op ‘n Vrydag bankrot was.

In die vroeë twintigste eeu het groot afdelingswinkels soos Macy’s op Dankseggingsdag straatparades gehou om verkope op die daaropvolgende Vrydag aan te moedig. Soos die jare verby gegaan het, het verwarring oor wanneer die dag gehou moet word, weer toegeneem, tot 1941, toe die Amerikaanse Kongres bepaal het dit moet op die vierde Donderdag van November gehou word. In die vyftigerjare het alhoemeer mense van die werk af weggebly en ‘n langnaweek geskep.

Dit het hulle ook die geleentheid gegee om op die Vrydag te gaan inkopies doen. Die naam ‘Black Friday’ het in 1966 die eerste keer in die gedrukte media bekend geraak toe die naam gebruik is as verwysend na die verkeersknope en ongelooflike samedromming in die winkels van verskillende stede. Die dag was die nie-amptelike begin van die Kersvakansie-seisoen, en mense het die geleentheid benut om ‘n groot deel van hul Kers-aankope te doen.

Die omsette van winkels het oor hierdie naweek die hoogte ingeskiet, wat die eienaars genoop het om hul deure op Dankseggingsaand reeds te open met ‘n paar ongelooflike goedkoop aanbiedinge om geesdrif te skep. Van 2013 af is dit ‘n algemene gebruik, met die gevolg dat ‘Black Friday’ in verskeie stede die beste verkoops- en drukste verkeersdag van die jaar is. Ook in baie lande van die wêreld. Insluitend Suid-Afrika.

Sommige bronne beweer hierdie massiewe finansiële hupstoot is die belangrikste rede vir die naam. Omdat die handelaars soveel geld moes uitgee om voorraad op te bou vir die dag, was hul finansiële state op Dankseggingsdag ‘in the red’, soos die Engelse uitdrukking lui. Met die koms van die Vrydag, het dit skielik verander na ‘in the black’. Een van die kenmerke van ‘Black Friday’, veral in Amerika, is die stormlope en gevegte wat uitbreek. Mense wag ure lank wag vir winkeldeure om oop te gaan en bv een van tien yskaste teen $50 dollar te koop. Hulle storm in soos soldate wat ‘n veldslag moet wen. Vroue-kopers ruk mekaar rond en pluk klere of ander goedere uit mekaar se hande. Die sekuriteits-afdelings van Amerikaanse winkels het hul hande vol om orde te handhaaf, maar die kasregisters werk oortyd.

Die Suid-Afrikaanse bemarkers het ook behoorlik ingeklim, en van die groot winkelgroepe en kleiner sake-ondernemings glimlag breed. Hul stewige jaarlikse winste bewys dit, terwyl derduisende Suid-Afrikaners alhoe dieper die skuldmoeras ingesuig word. Onder die indruk dat hoe meer hulle koop, hoe meer spaar hulle.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button