South Coast Fever

Valsheid

Opinion piece by Oom Kallie

Die skyn bedrieg soms. Alles wat blink is nie noodwendig goud nie. Ons ken hierdie as bekende uitdrukkings of spreekwoorde. Ons sien tekens daarvan in die samelewing, wanneer iemand aan jou ’n produk bemark wat nie aan die verwagtinge voldoen nie. Ons hoor dit, of juis nie, wanneer ’n prediker die naam van Christus gebruik in ’n preek maar eintlik gaan dit alles nèt om selfverbetering. Ons ervaar dit aan ons lyf as politici ons hemel op aarde belowe, maar nie die daad by die woord voeg nie.

Ons ervaar dit wanneer mense ons ondergang begeer en op slinkse maniere ons karakter aanval. Die Psalmis van Psalm 120 het ook ervaar dat die skyn bedrieg. Hy het met die valsheid en sluheid van vyande te doen gehad wat sy ondergang gesoek het met hul dubbelhartigheid en skinderveldtogte teen hom. In Psalm 120:2 bid hy in sy nood: “Here, bevry my lewe van lippe wat lieg, van ’n tong wat bedrieg.” In ’n ander vertaling word dit so gestel: “Bevry my van leuenaars, o God. Hulle glimlag so soet maar lieg deur hulle tande.”

Valsheid en sluheid het hoogty gevier. Kwaadwilliges het die Psalmis beswadder en beskinder, sy karakter aangeval, hom verkleineer en verwoes. Nou weet ons mos dat meer mense se lewens verwoes word deur die tong as deur die swaard. Hy is afgekraak. Van sy selfbeeld het min oorgebly. Hy het vrede begeer, maar al wat hy hoor is hoe sleg hy is, watter foute hy alles het. Daarom bid hy dat die Here hom sal red van hierdie leuenaars en bedrieërs.

Ons lewe in ’n gebroke wêreld en loop deur onder ander se bedrieglikheid. Moenie dat mense van jou lewe sê: “die skyn bedrieg nie.” As jy ’n volgeling van Jesus Christus is, sal jy nie daarop uit wees om ander te mislei nie. Jou woorde getuig van opregtheid en waarheid. Jy stel nie ’n strik vir ander met jou woorde nie. Tog struikel ons baie kere. Mag die woorde van ’n Psalm 19:15 ons lei as ons dit daagliks bid: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart, vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button