South Coast Fever

Voorheen ‘n sieraad, is Unisa nou ook op pad ashoop toe?

Opinion piece by Johan Pretorius.

As ‘n eens trotse alumnus van wat in ‘n stadium beskou is as die beste universiteit van sy soort in die ganse wêreld, is die uwe die afgelope tyd geskok om te verneem wat by Unisa aan die gang is. As iemand wat letterlik honderde werkopdragte verspreid oor baie jare by hierdie Universiteit ingehandig en ontelbare eksamenvraestelle geskryf het ( nie omdat ek so baie grade het nie, maar eerder omdat ek so baie hereksamens moes skryf ), het ek die instansie se doen en late gevolg van die vroeë sestigerjare af tydens my studentejare by die Goudstadse Onderwyskollege, toe ons ons graadvakke by Unisa voltooi het omdat daar nog nie ‘n Afrikaanse universiteit in Johannesburg was nie.

Na ‘n kursus in kommunikasiekunde in die sewentigs en twee jaar LLB in die vroeë negentigs het die uwe kontak met die Universiteit verloor, en gebeure daar bloot oppervlakkig gevolg. Totdat ek verlede week geskok is deur die besonderhede van ‘n berig deur Annelise Burgess in Vrye Weekblad, onder meer oor ‘n geslaagde regsaksie van die universiteit teen die betrokke minister.

Unisa is die grootste universiteit in Afrika, met sowat 400 000 studente. Dit is nagenoeg ‘n derde van alle universiteitstudente by openbare universiteite in SA. Meer as 50% van al Suid-Afrika se onderwysers word hier opgelei. En tog druip meer studente hier as by enige ander van die land se 25 openbare universiteite. In Mei verlede jaar doen prof. Themba Mosia, ‘n hoogs gerespekteerde stem in die hoër onderwys met ‘n onkreukbare reputasie, verslag. Hy is deur die Minister van Hoër Onderwys gevra om ondersoek in te stel wat by Unisa aan die gang is. Sy bevindings is skokkend.

In ‘n opsomming van sy verslag van 316 bladsye verklaar die professor hy het ‘n “nes van onstabiliteit gevind, gekenmerk deur ‘n kultuur van vrees, intimidasie en afknouery, gevalle van wanadministrasie, finansiële ongerymdhede, mensehulpbron-fiasko’s, ‘n baie brose omgewing wat inligting-en-kommunikasietegnologie (ITK) betref, swak studentedienste, akademiese wanpraktyke, uitlekking van vertroulike dokumente en twyfelagtige besluite deur die bestuur en die raad”.

Enkele van die belangrike bevindings is onder meer dat die aandrang op uitsluitlik aanlyn-onderrig sedert Covid 19, een van die onderliggende redes is vir Unisa se swak resultate en hoë opskopsyfers. Daar is hopeloos te veel ingeskrewe studente, akademiese bedrog, bv. mense wat gehuur word om vir ander eksamen te skryf, daar is feitlik geen ondersteuning vir studente nie, akademiese standaarde het drasties gedaal en dis bv. gans te maklik om ‘professor’ te word. Van die professore kan nie skryf, onderrig gee of navorsing doen nie.
Mosia sê dit is “opmerklik en kommerwekkend” dat Unisa geen A-gegradeerde wetenskaplikes het nie, en hoewel die kolleges vir geesteswetenskappe en wetenskap, ingenieurswese en tegnologie onderskeidelik 51 en 44 NNS-gegradeerde lektore het, het hulle meestal ‘n C-gradering, met ‘n paar Bs.” NNS-graderings is ‘n instrument om die gehalte van navorsers op gelyke vlak te kry met die bestes ter wêreld en word gegrond op navorsings- en akademiese prestasie.

Daar is twee “swart forums” by Unisa wat dikwels as een gesien word. Die oorspronklike forum het uit akademici bestaan – wat destyds wit vakkundiges ingesluit het – en was daarop gemik om transformasie te bevorder. Die tweede, ‘n vakbond en militante drukgroep, het later gekom. En dit is hierdie forum waaraan heelwat van die chaos en sommige van die korrupte aktiwiteite by die universiteit nou toegeskryf word. Daar is ‘n algemene gebrek aan bestuur. Die universiteit se kritieke strukture is alles ontwrig en ondoeltreffend. Daarbenewens is die universiteitsraad ook wanfunksioneel, ‘n kritieke bevinding, en finansiële wanbestuur is algemeen.

Prof. Mosia beveel in sy verslag aan dat die raad en bestuur van Unisa in ooreenstemming met artikel 49F van die Wet op Hoër Onderwys van hul pligte onthef word. Minister Blade Nzimande het dit probeer doen, en prof. Ihron Rensburg, die voormalige visekanselier van die Universiteit van Johannesburg, aangestel as die administrateur wat die bestuur van die universiteit sou oorneem. Unisa het dit in die hof betwis en verlede week die saak gewen. Die minister sal na verwagting teruggaan hof toe om die appèluitspraak te betwis.

Intussen duur die wanfunksionaliteit voort. Vrye Weekblad berig prof. Jonathan Jansen, die voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat en ‘n professor in onderwys aan die Universiteit Stellenbosch, se kommentaar op die aangeleentheid is “ek sal onder geen omstandighede enige ouer aanraai om hul kind na Unisa te stuur, of enige volwassene om daar te registreer nie, grootliks omdat dit hoogs onstabiel as ‘n universiteit is en dit as ‘n instelling diep korrup is. Wat professore van ‘n universiteit wil hê, is stabiliteit, en wat ouers wil hê, is voorspelbaarheid. Nie een van daardie dinge is tans by Unisa teenwoordig nie.”

Inderdaad ‘n verdoemende uitspraak. Nog een van ons land se instellings, voorheen sierade, wat gereduseer is tot skaduwees van hul wonderlke verlede.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button