OPINION: Oningeligtheid, onkunde en vooroordeel verdeel Suid-Afrikaners
Opinion piece by Johan Pretorius.
As of ons land nie verdeeld genoeg is weens interne faktore nie, laat Suid-Afrikaners boonop toe dat gebeure in ander lande ons verder uitmekaar uit dryf. Menings word gevorm oor gebeurtenisse en mense, standpunte, dikwels gegrond op gebrekkige kennis of blote ideologiese of godsdiens-voorkeure, en basta met die res. Dis oral op die sosiale media waarneembaar, en verstommend hoe mense mekaar oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe kan uitvreet en slegsê.
Hierdie slegsêery kom ooglopend onder alle bevolkings – en taalgroepe voor, maar ek is doodseker die ergste onderlinge onverdraagsaamheid is onder die blanke bevolkingsgroep, en veral onder Afrikaanssprekendes. Ja, dis ook erg onder die ander groepe, maar nadat ek ‘n dag bestee het om verskillende kommentare op die sosiale media, veral Facebook, te bestudeer, was dit opmerklik hoe Afrikaanssprekendes mekaar verbaal verflenter oor binnelandse politieke en selfs sportsake, maar veral oor gebeure in die buiteland.
‘n Goeie voorbeeld is die Amerikaanse politiek. Die pro-Trumpers en die Trumphaters sê mekaar sleg dat die taalvonke spat. Dieselfde geld die oorlog in die Ukraïne. Ek het nooit kon droom dat ek bekgevegte sou beleef tussen Afrikaanssprekendes wat pro-Putin en Rusland is en niks van die Ukraïne wil weet en die anti-Putins nie. Die gebeure in Gasa en die stryd tussen Israel en Hamas is die jongste twispunt, en wat my nogal verbaas het, is die betekenisvolle aantal Afrikaanssprekendes wat Israel se optrede verdoem, hoewel die meerderheidsteun steeds ongekwalifiseerd pro-Israel is.
Die oorlog in Gasa woed reeds sedert vroeg in Oktober, en ANC-regering se standpunte het die verdeeldheid onder ons gewone Suid-Afrikaners betekenisvol vererger. Dis bitter jammer, hoofsaaklik omdat standpunte aan albei kante dikwels gegrond is op oningeligtheid of waninligting, en politieke voorkeure. Natuurlik sal daar nooit eensgesindheid hieroor wees nie, maar die saak is so kompleks met verskeie elemente wat in ag geneem moet word, ek kry die indruk mense stel nie belang om hulle daarvan te vergewis nie. Aan die een kant is alles wat Israel doen reg en geregverdig, en aan die ander kant is die Palestyne/Hamas/ Hezbollah die slagoffers van Israelse aggressie en verdrukking. Dit terwyl sowel Israel as die Palestyne soms erg droogmaak.
Die ANC-regering is openlik anti-Israel en pro-Palestyne, sonder enige genuanseerde standpunte wat bewys hulle verstaan die kompleksiteit van die saak. Betogende groepe van albei kante het mekaar reeds amper te lyf gegaan, en bekgevegte kom oral op openbare platforms voor. Van die radikale voorstelle het ingesluit ‘n oproep deur ‘n pro-Palestynse politikus dat die Israelse ambassade afgebrand word. Daarenteen propageer prominente pro-Israelse groepe die anneksering van Gasa en verdrywing van van hierdie mense uit die ‘Heilige Land’.
Daar is nie genoeg ruimte in hierdie rubriek om al die tersaaklike besonderhede te bespreek nie, en die uwe het in elk nie genoeg dieptekennis om oplossings te probeer voorstel nie. Maar wat ek wel weet, is dat daar eenvoudige, logiese waarhede is wat ons as Suid-Afrikaners aan albei kante moet aanvaar om onnodige wrywing en konfrontasie te vermy. Die beste sodanige voorbeeld is die twis wat ontstaan het oor die toespraak van ‘n jong krieketspeler by ‘n toekenningsaand. David Teeger, die 18-jarige hoofseun van die King Edwardskool in Johannesburg en aangewese kaptein van die Suid-Afrikaanse 0/19-krieketspan, is die ontvanger van een van Absa se Joodse Presteerder-toekennings. In sy aanvaardingtoespraak het Teeger gesê hy mag wel ‘n opkomende ster wees, maar die ware opkomende sterre is die jong soldate van Israel, en hy wil sy toekenning aan hulle toewy.
Dit het die Alliansie vir Soldariteit met Palestina woedend gemaak en hulle het hom by die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee, Krieket Suid-Afrika en die Lions se krieket-franchise gaan verkla oor sy ‘uitdagende, eensydige en opruiende’ uitlatings. Krieket SA het besluit om ‘n onafhanklike ondersoek na Teeger se toespraak te gelas. Dit sal deur adv. Wim Trengove onderneem word, en sy bevinding en redes daarvoor sal bekend gemaak word. Teeger, ‘n Ortodokse Jood, skryf op die oomblik sy matriek-eksamen. Hy het reeds gesê hy is jammer oor sy uitlatings. ‘n Kompliserende faktor is dat hy geen kontrak het met die Lions of met Krieket SA nie, en die vraag is of Teeger enige verantwoordelikhede jeëns hulle het.
Hierdie is myns insiens ‘n tipiese voorbeeld van hoe wêreldgebeure oordele in hierdie land totaal skeefgetrek het. Teeger is ‘n Jood. Waarskynlik met familie in Israel. Die toekenning was spesifiek vir Joodse presteerders. Om watter rede mag hy nie solidariteit met sy mense betoon nie? Hy is nie ‘n politikus of prominente openbare figuur nie, maar ‘n tienderjarige krieketspeler. Wat sou gebeur het indien hy ‘n Moslem was, en solidariteit met Hamas of die Palestyne uitgespreek het? Niks. Absoluut niks.
Ek besef dis te veel gevra en die kanse dat dit sal gebeur is feitlik nul, maar ons in hierdie land moet meer verdraagsaam en veral ingelig raak oor sake van uiterste belang om nonsens soos hierdie te voorkom. Dalk besef Krieket SA dit, vandaar adv. Trengove se aanstelling. Sien uit na sy bevinding.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
