‘n Groot besprekingspunt die afgelope week was die onthullings in Rapport ivm. die dubbele lewe wat die Wêreldbeker-Springbok van 1985, Hannes Strydom, gelei het. Hoewel daar gerugte en berigte was oor sy aandeel in onwettighede by sy apteke, het die voorbladberig skokgolwe deur die land gestuur, as die reaksie op Facebook enige maatstaf is.
Lesers van hierdie rubriek sal teen hierdie tyd bewus wees van die besonderhede, en al is net die helfte van die bewerings waar, is dit sowel skokkend as ongelooflik. Dwelms, seks, verhoudings met mans, reuse onwettige hoesstrooptransaksies by sy apteke, ‘n totale katastrofe. Voeg daarby sy dood in ‘n motor-ongeluk, die vrae rondom die man saam met hom, wat die ongeluk oorleef het, en ons het ‘n intrige waarvan die besonderhede nog skokke gaan veroorsaak.
Wat my nogal verbaas het, was die aantal besoekers deur die week wat Rapport gekritiseer het omdat die koerant die berig geplaas het. Kommentare soos ‘tipies van die pers wat weer sensasie soek’ en ‘het hul geen gevoel vir sy naasbestaandes nie?’ was volop. Asof die koerante vir die gemors verantwoordelik is. My ervaring het my geleer die media is bloot die spieël van die gemeenskap waarin ons leef.
Ja, daar is onverantwoordelikes onder die koerante, in Suid-Afrika veral in die stal van Independent Newspapers. In hierdie groep het die Pretoria News ‘n jaar of wat gelede berig oor ‘n tienling wat in die stad gebore is – ‘n totale versinsel wat die redakteur sy werk gekos het. Rapport se berig is egter iets totaal anders. Dit is koerante soos hierdie wat ‘n plig het om sy lesers in te lig oor iemand soos Strydom wie se apteekbedrywighede ernstige nadelige gevolge veroorsaak het. Ek voel jammer vir sy naasbestaandes, maar hy moes daaraan gedink het voordat hy onverantwoordelik opgetree het.
Iets meer aangenaam: Daar was groot vreugde hier by ons na die Sharks se topvertoning verlede naweek.. Nou het ons hoop vir die res van die seisoen. Soos hulle Saterdag gespeel het, gaan bitter min spanne hulle kan klop. Geluk ook aan die Lions en die Bulle vir hul skittervertonings. Net die Stormers sukkel nog.
Ds. Mossie Mosterd en sy vrou van Nelspruit of Nbom-watookal wat kom beesstert eet het, het ons vertel het van ‘n kinderdiens in sy kerk ‘n paar maande gelede. Hy het oor Daniël in die leeukuil gepreek, en gevra dat al die kinders voor moet kom sit.
Baie dramaties vertel dominee Mosterd: “En die koning se soldate gryp vir Daniël, hulle ruk hom rond, sleep hom na die leeukuil, en terwyl die diere honger brul, GOOI hulle hom tussen die leeus in !” Die kerk is tjoepstil en een seuntjie wat hom so ingeleef het in die storie, haak kliphard af: ‘So ‘n bliksem!’
Ds. Mosterd sê hy het hom amper in ‘n koma in gelag en kon nie verder preek nie. Hy moes een van die ouderlinge gevra om net af te sluit. Na die tyd het hy die ouers gevra om die seuntjie tog nie pak te gee nie want hy was die enigste een wat aandagtig geluister het.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
