Oom Pottie en ek het Maandag vandeesweek in sy 1984-Cressida, die bloedrooie sonder ‘n merkie op die verfwerk, met egte Napaleer-stiplekke, ‘n meneer van ‘n sessilinderenjin en skaars 90-duisendkilometer ‘op die klok’ van Port Shepstoe af tot in Port Edward gery om te kyk hoe lyk ons kus deesdae.
Dit was ‘n baie insiggewende rit, en dit het ons baie goed laat voel. Ons het by elke strand op die roete afgeklim, rondgekyk en vergelyk met hoe die plekke gelyk het toe ons dieselfde ding twee jaar gelede gedoen het. Hoewel daar nog op plekke tekens van agteruitgang is en ‘n behoefte aan onderhoud, was die oorhoofse indruk ontsettend ppsitief. Veral by die groter strande soos Umtentweni, St. Michael’s, Uvongo, Margate, Ramsgate en Marina Beach (hoewel die vloedskade aan die rerstaurant nog herstel moet word ), was dit opmerklik hoeveel opknappings- en skoonmaakwerk die afgelope tyd gedoen is. Veels geluk aan die munisipaliteit vir hulle aandeel, maar veral die burgerlike organisasies en individue wat grootliks hiervoor verantwoordelik is, verdien spesiale vermelding. Veral die verskillende Tidy Towns doen uitstekende werk.
Behalwe dat ons deur talle mense genader is wat die Cressida by oom Pottie wou koop, teen ‘n appel en ‘n ei, was dit ‘n rit wat ons weer hoop gegee het. Kom ons hou duim vas dat die dienslewering hierdie seisoen goed sal wees en die ou rioolprobleme by Margate se strandmeer nie weer kop uitsteek nie. Intussen kom die vakansiegangers daagliks groet, baie van hulle wat voor Covid laas hier was, en ons hoop op ‘n goeie seisoen. Hoewel die Sharks baie goed herstel het, los ons die rugby vir vandeesweek.
Ons glimlag van die week kom ook uit Pottie se argief van oor die jare. ‘n Man raak op ‘n dag siek en sat daarvoor dat hy elke dag moet gaan werk sodat sy vrou by die huis kan bly. Hy bid toe: ‘Here, ek wil graag hê my vrou moet weet hoe dit voel om agt ure per dag hard te werk. Kan ons nie vir ‘n dag liggame ruil nie asb?” Sy gebed word verhoor, en die volgende dag word hy as ‘n vrou wakker. Die man/vrou staan op, maak oggendete, maak die kinders wakker, voer hulle, pak middagete in vir almal, neem die kinders skool toe, doen inkopies, maak die katbak skoon, was die hond, maak die huis skoon, jaag skool toe om die kinders op te tel, gee hulle middagete, kyk dat hulle huiswerk doen, stryk en maak aandete.
Na aandete maak hy/sy die kombuis skoon. Vou klere op, bad die kinders en kry hulle teen nege-uur in die bed. Hy/sy klim doodmoeg in die bed, waar sy/haar man/ vrou eers bietjie aandag soek. Die volgende oggend raak hy/sy vroeg wakker en bid: “Here, ek het nie geweet waarvoor ek vra nie. Verander my terug na ‘n man. Groot asseblief, Here. Amen.”
Die antwoord kom: ‘My kind, ek weet jy het jou les geleer, maar ek kan jou eers oor 9 maande terugverander. Jy het gisteraand verwagtend geraak.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
