Siende dat ‘n groot aantal Suid-Afrikaners en veral lesers van die Fever reeds vir die Kerstyd op vakansie is, het die uwe besluit om getrou aan die onderneming om in hierdie rubriek ‘n verskeidenheid en hopelik interessante onderwerpe aan te raak, vandeesweek ‘n humoristiese blik op Kersfees en die man met die wit baard te skryf. Die motivering hiervoor is deels die tendens dat vandag se kinders en jongmense so vasgevang is in die digitale era, en in die besonder selfone met Tiktok, Instagram, You Tube en dies meer.
Ek het jare gelede afgekom op ‘n briefie van ‘n jong seun aan Kersvader wat vir my om ‘n verskeidenheid redes baie snaaks was. Het my geheue oortyd laat werk, en nogal binnepret gehad met die herkonstruering en skryf daarvan. Deels omdat die skrywer van die brief netsowel een van my twee kleinseuns kon wees. Ek deel dit met lesers van die Fever en hoop dit sal u dag ‘n bietjie opkikker:
Liewe Kersvader, Hoe gaan dit met Oom? En met Tannie Krismis? Of is dit Kersmoeder? Ek hoop al die takbokke en die Elwe is ook almal gesond. Soos u seker weet, was ek die jaar ? baie soet seun. Ek sal asseblief die nuutste X-Box, ‘n Apple IPhone en die topmodel Apple-skootrekenaar wil ontvang. Groete en ? Geseënde Kersfees, Bennie Botha.
Liewe Bennie, Dankie vir jou mooi briefie. Mevrou Vader Kersfees,, soos sy bekend wil staan, die takbokke en my helpertjies is almal blakend gesond. Hulle laat weet dankie dat jy uitvra na hulle en waardeer dit baie. Kersvader is egter bekommerd dat jy te veel tyd bestee aan videospeletjies en die aanhoudende stuur van selfoontekste aan jou vriende. Jy is juis besig om bietjie lywig te raak weens te min oefening. Daarom, en omdat jy so soet was, dink ek dat ek liewer vir jou ietsie gaan bring waarmee jy buite kan speel, van daai ekstra vetjies ontslae kan raak en nie so bleek lyk nie. Geseënde Kersfees, Kersvader
Geagte mnr. Kersfees, Siende dat ek my deel van ons soet- teenoor stout-kontrak nagekom het, voel ek vol vertroue dat u ? plan sal maak om my te gun wat my toekom. Ek wil nie graag hierdie Feestyd skend en omskep in ? hofgeding nie. Verder dink ek dis bietjie vermetel om te verwys na my gewig, veral komende van ? oorgewig man wat maar een keer per jaar buite kom. Hoogagtend die uwe, Ben Botha
Jongeheer Botha, Hoewel ek toegegee het dat jy jou beter gedra het in 2023, moet ek jou daarop wys dat jou Kerslys slegs ? versoeklys is en op geen manier ? waarborg is dat dienste gelewer sal word nie. Dis egter jou volle reg om wetlike stappe te doen, maar neem kennis dat ek en my prokureurs al suksesvol sake doen sedert die Dierebeskermingavereniging van Amerika my aangevat het oor die werklas van my takbokke. Ek is dus meer as gewillig om jou aan te vat in die hof. Verder wil ek ook net byvoeg dat die oefening wat ek voorskryf, nie net jou gesondheid sal verbeter nie, maar dit sal jou ook help met jou powere sosiale interaksie, daardie binneband om jou middellyf laat verdwyn en selfs van daardie klomp puisies op jou gesig laat opklaar. Die uwe, Kersvader.
Kyk hier Vetg*t, Ek het jou nou klaar laat weet wat ek wil hê en ek verwag dat jy dit vir my gaan bring. Ek was maar net beleefd. Maar nou, omdat jy my in die gesig vat en my vriende ook nog bysleep, gaan ek hulle juis teks en ons gaan vir jou met jou dikg*t inwag . Ons gaan uit daai sak van jou NET VAT NET WAT ONS WIL! Wees gewaarsku Vetg*t! Jy sukkel met die verkeerde ou, my maat. Breker Botha
Luister Pizzagesig, Is jy gerook? Dink jy ? ou wat by ELKE huis in die wereld inbreek in een nag, sonder om gevang te word, gaan skrik vir ? sn*tneus soos jy? Ek weet wanneer jy slaap en ek weet wanneer jy wakker is, jou klein str*nt. Besef jy hoeveel kontakte ek het, my pêl? Ek is bedraad, ou maat! Van die Mafia tot by die Japanse Jakuza en Chinese Triads. Op my rondtes sien ek siek goed. Ek het maniere om jou te laat bloei waar jy nie geweet het jy het bloed nie. As ek jou moet vertel, skiet jy net daar ? kat op jou ma se duur Persiese mat. Wees verseker jy gaan nie kry waarvoor jy gevra het nie. Verstaan jy?? Ek gaan nogtans steeds opdaag en dan gaan ek en my helpers kyk hoeveel pyn jy kan vat en met hoe min bloed jy kan leef. Maak jou maar gereed vir iets wat ‘n Middeleeuse marteling soos jou verjaardagpartytjie sal laat lyk. Capiche? KV.
Liewe Kersvader, Baie, baie dankie dat jy die omstandighede vir my so mooi verduidelik het. Bring vir my net wat jy wil, ek sal ENIGIETS tog so baie waardeer. Jou dienswillige Bennietjie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
