South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece by Wouter Willemse.

Ons beleef een van die beste Desembervakansies in ons geskiedenis. Baie besoekers, veral uit die Vrystaat, en die atmosfeer is lekker, ontspanne. Vroulief werk nogal hard, want ons het elke dag ‘n middagete-‘special’ teen ‘n billike prys, en sy maak 40 porsies. Teen half-twee, twee-uur is almal verkoop, saam met ‘n tapbier as deel van die R70.

Ons praat ook nie oor politiek of enige ander neerdrukkende onderwerp nie. Ons het niks oor die Proteas se pak slae teen die Indiërs in hul eerste eendagwedstryd gesê nie.Ons kon egter nie die Sharks se nederlaag teen die Cheetahs ignoreer nie, want Oom Pottie, wie se tweede gunstelingspan die Bloemfonteiners is, het dit behoorlik ingevryf. Ons Sharks-ondersteuners kon onsself nie verweer nie, want hoe verloor ‘n Springbokbelaaide span, Eben Etsebeth en al, teen die Cheetahs? ‘n Bykomende rede vir Pottie se blydskap was natuurlik die goeie vertonings van sy geliefde Lions. Ewenwel, kom ons laat dit daar.

Die Kersfeesgevoel het reeds hier by ons posgevat, en Pottie, vroulief, ekself en ons personeel wens die lesers van die rubriek ‘n Geseënde Kersfees toe. Ons sal voor die nuwe jaar oor twee weke weer gesels. Ons glimlag vir die week kom van Carel Neethling, een van die Vrystaters wat hier gekuier het: Janneman le Roux was so 20 jaar gelede ‘n kranige wildboer met ‘n wapenwinkel op ‘n dorp in Noordwes. Op ‘n dag ry hy oor sy plaas, en hy sien minder Koedoes. ‘n Week later vertel een van sy werkers hom hy het iets in die nag gehoor en ligte gesien.

Janneman sit die volgende aand in die donker in sy Fortuner naby aan sy plaashek. Hy het skaars in die donker stilgehou, toe ry ‘n bakkie stadig, sonder ligte, by sy hek in. Die bakkie verdwyn en Janneman sit en wag tot hy ‘n skoot hoor klap. Hy ry in die skoot se rigting. Drie mans is besig om ‘n Koedoebul af te slag. Hy sluip stil-stil na die bakkie toe…en ja, daar lê drie gewere agterop. Baie duur wapens. Hy vat hulle, skakel sy jaglig aan en loop na die mans toe. Hulle skrik hulle boeglam. Hulle weet nie wie Janneman is of op wie se plaas hulle is nie. Maar Janneman is ewe vriendelik. Hy vra hulle waarom hulle so in die donker sukkel, en nooi hulle na sy huis toe vir ‘n braai en drankies.

Die drie kom oor hul ergste skrik, en op pad terug stop hulle by Janneman se huis. Die sluipjagters is die ene senuwees, en Janneman sukkel om hul name te wete te kom. Die vier gesels oor koeitjies en kalfies, en hoe meer die drie probeer ry, hoe meer gesels Janneman. Hulle wurg hul tjoppies en brandewyne af, maar Janneman is die ene vriendelikheid en eet lekker. Uiteindelik groet hy hulle. Die oudste van die drie skraap moed bymekaar. ‘Kan ons maar ons gewere kry?’ ‘Natuurlik’, antwoord Janneman. ‘Julle ken die geweerwinkel op die dorp? Dis myne. Ek sal daar wees. Kom haal julle gewere daar. Bring sommer twintigduisend rand vir die koedoe saam.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button