OPINION: 2024 ‘n waterskeidingsjaar vir SA en die wêreld?
Opinion piece by Johan Pretorius.
Ons het hom gesien kom, ‘n vermoede gehad hy gaan groot verandering bring, en nou is hy hier. Die jaar 2024. Invloedryke nuus-organisasies en -kommentators wêreldwyd voorspel geruime tyd reeds dat dit ‘n kritieke jaar gaan wees in die geskiedenis van die wêreld en spesifieke lande. Afhangend van wat vorentoe gaan gebeur, kan die wêreld, en Suid-Afrika, ‘n jaar van nou af drasties anders lyk.
Uitgers belangrike verkiesings gaan oral plaasvind, ook in Suid-Afrika, en die groot vraag is: Gaan die ANC weer met ‘n volstrekte meerderheid regeer? Indien wel, watter hoop het ons dat die situasie in die land sal verbeter? Dat die verwoeste infrastruktuur herstel en dat korrupsie hokgeslaan word, dat die plegers van korrupsie tronk toe gaan, dat ons misdaadsyfer sal afneem, die verwoeste staatskorporasies soos Eskom sal herstel, en dat die swetterjoel ander dinge wat in die land verkeerd is, reggestel sal word? Geen hoop nie.
En indien die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid kry nie, wat is die kanse dat Suid-Afrika ‘n regering sal kry wat die nodige herstelwerk sal kan doen? Totaal onbekend, want dit sal afhang van wie vorm koalisies met wie. Hier is nie ruimte om al die koalisie-moontlikhede te bespreek nie, maar daar is wel ‘n hele paar positiewe opsies. Die dood in die pot wag egter op ons indien die ANC en die EFF ‘n koalisie vorm.
Wat die res van die wêreld betref, wag daar groot potensiële politieke grondverskuiwings. In Amerika sukkel die kongres reeds om die land te bestuur, en met die moontlikheid van ‘n tweede termyn vir oud-president Donald Trump, wag daar ‘n turbulente tydperk op die land met talle onsekerhede. Trump loop ver voor in die wedloop om die Republikeinse verkiesingskandidaat te wees, maar die verskeidenheid regsaksies teen hom dreig om sy kandidatuur te ontspoor. Indien hy wel weer president word, is daar genoeg bewyse uit sy eie mond dat hy diktatoriale stappe sal doen wat die demokrasie in die VSA ‘n groot knou sal gee. Sy ondersteuners maak geen geheim daarvan nie dit is wat hulle wil hê moet gebeur, en sy teenstanders veg verbete daarteen. Amerika was nog nooit so ernstig verdeeld soos nou nie, wat die land se status as leier van die Weste kwaai knou.
Trump is ook nie die enigste regse populistiese politikus op die internasionale toneel nie. Dieselfde is besig om in verskeie Europese lande, soos bv. Nederland, te gebeur. Oorloë in die Oekraïne en Gaza woed steeds voort, die politieke stabiliteit in verskeie lande word bedreig deur reuse migrasiebewegings van mense uit arm lande wat ‘n heenkome in die Eerste Wêreldlande soek, gebeure wat groot bedreigings inhou vir ekonomiese en politieke stabiliteit en die vrees vir ‘n wêreldresessie laat toeneem. Die eenvoudige werklikheid is demokratiese regerings sukkel om hul kiesers te oortuig dat hulle die antwoorde het.
‘n Belangrike vraag is of 2024 die jaar gaan wees wanneer die Weste die Oekraïne vir die wolwe gaan gooi en Putin toelaat om met sy barbarisme weg te kom. President Biden se belofte dat die VSA die Ukraïne sal steun solank as wat dit nodig is, was nog nooit so in gevaar soos nou nie. Indien die Weste hom ophou steun, sal President Volodymyr Zelensky moet besluit of hy met Putin gaan onderhandel, of ‘n oorlog voortsit wat sy land verder sal uitmergel. Indien Putin die oorhand kry, sal dit ‘n vernederende nederlaag vir Amerika en NAVO wees, met die gepaardgaande onsekerheid in Europa.
Nog ‘n belangrike vraag is of Amerika kan keer dat die oorlog tussen Israel en Gaza opvlam in ‘n streek-konfrontasie. En sal Israel Hamas totaal kan uitwis voordat hierdie land wêreldwyd verwerp word weens die grootskaalse uitwissing van Palestyne en hul woongebied? Sal die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, wat reeds onder ‘n skandaalwolk is, en sy regering hierdie dinge oorleef? Agv. hierdie oorlog laai die spanning op in verskeie ander wêrelddele wat belange daar het, bv. Libanon, Iran en Jemen.
Honderde miljoene mense op aarde, benewens Suid-Afrika en Amerika, gaan vanjaar stembus toe. In Taiwan, waar die spanning met China voortduur, ook in Indië en Rusland, waar die verkiesings alles behalwe demokraties is. Verkiesings vir die Europese parlement sal ‘n goue geleentheid bied vir regse, populisitiese, anti-immigrasiepartye om ‘n groot vastrapplek te kry. In Brittanje kan ‘n verkiesing vanjaar dalk die Arbeiderpasrty weer aan die bewind laat kom, en in Meksiko is twee vroue die enigste kandidate.
Alles dui daarop dat 2024 nuwe globale politieke groeperings gaan meebring. Die VSA en sy vennote het te doen met ‘n losse maar toenemend-gekoördineerde front van Rusland, Iran, China en Noord-Korea, wat almal Amerika se mag wil verminder. Elke globale krisis sal ‘n toets vir Amerika se geloofwaardigheid wees. Kan Biden, wat reeds in sy tagtigs is en min vertroue as ‘n dinamiese leier inboesem, dit kan bestuur, of is Donald Trump die Weste se redder? ‘n Man wat volgens sy teenstanders hom aan niks anders steur as sy eie belange nie? As opperbevelvoerder van Amerika se militêre magte, met sy vinger op die rooi knoppie?
Daar is nog talle ander vrae en onsekerhede, maar wat wel met besliste sekerheid verklaar kan word, is dat watookal gebeur, 2024 in die geskiedenis opgeteken sal staan as ‘n jaar van beslissende en lotsbepalende gebeure.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
