Die jaar 2024 is met ons, en almal hier in die Watergat, insluitende kombuispersoneel, wens die lesers van hierdie rubriek, en natuurlik ook ons besoekers, ‘n geseënde, gelukkige en gesonde nuwe jaar toe. Dit is ons 22e jaar, en ons is dankbaar vir die ondersteuning deur die jare. Oom Pottie, wat al diep in die tagtig is, sê hy het elke oomblik van sy ‘aftreejoppie’ geniet. Hy was ‘n mynwerker aan die ou Oos-Rand van die destydse Transvaal, en het na sy vrou se dood besluit om ons hier aan die Suidkus te kom bystaan. Hy is vroulief se pa se jongste broer. Sy enigste dogter woon in Germiston, ( hy weier om na Ekurhuleni te verwys ), en hy is ‘n vurige Lions-ondersteuner. Soos hy self verklaar, sy enigste ongelukkige dae in die Watergat is wanneer die manne van Johannesburg verloor.
In die eerste week van 2024 was ons goed besig, met reënweer wat ‘n groot rol gespeel het om mense van die strande af weg te hou. Slegte weer is ons, ander restauranteienaars en winkelsentrums, se vriend. Lieflike, sonskynweer is ons gemeenskaplike vyand, maar weer die beste vriend van die drankwinkels wat op dié dae flukse verkope van veral bier ondervind. Die besoekers se gesprekke oor sake van die dag was maar neerdrukkend weens alles wat in Suid-Afrika en elders in die wêreld aan die gebeur is. Oom Pottie is oortuig daarvan 2024 gaan baie dinge in die wêreld onherroeplik verander, nie noodwendig ten goede nie.
My hoop, en ek aanvaar miljoene ander Suid-Afrikaners s’n, is dat ons eie probleme minder gaan word na die algemene verkiesing. Talle van ons besoekers se kommentare oor dit wat op die oomblik in Suid-Afrika gebeur, kan nie herhaal word nie weens die taalgebruik en uitgesproke politieke sentimente. Dis ‘n omvangryke bespreking, maar opsommend is die sentiment deur die bank dat die ANC moet waai omdat die party die land deur sy agterent getrek het. Daar is geen manier waarop hyself daardie skade kan herstel nie. Kom ons hoop die gevaarlikste politikus in Suid-Afrika, Julius Malema, en sy bende, wat nou die politeke nar Carl Niehaus insluit, se strewe na mag word gestuit. Verder nie veel om te sê nie, behalwe dat ons in ons noppies was met die Proteas se oorwinning oor Indië, en dat ons hoop hulle doen dieselfde in die tweede toets, wat nou gespeel word.
Ons het gesukkel om ‘n glimlag van die week te kry, want ons probeer om die gehalte van humor redelik hoog te hou, pleks sommer enige grappie te gebruik. Oom Pottie het dus een van die verlede voorgestel, vir diegene wat dit nog nie gehoor het nie. Jan , ‘n prokureursklerk, kom met ‘n blou oog op kantoor. ‘En dit?’ vra sy kantoormaat. ‘Man, ek is nou net deur ‘n vrou in die hysbak met die vuis geslaan.’ ‘Hoe so?’ vra die maat. ‘Die vrou was baie mooi gebou, en ek kon nie help om na haar indrukwekkende borsmaat te kyk nie. Ek was heel ingedagte toe sy ma vra: ‘Sal jy vir my nommer een druk, asb?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
