Hoe het die nuwe jaar sovêr vir jou verloop? Enige raad wat jy aan die gemeenskap wil gee? Enige voornemens vir 2024 wat reeds misluk het of loop alles vir jou klopdisselboom? Sekere Nuwejaarswense word net so aangestuur vir almal. Die kletsdiens “WhatsApp” wys gelukkig vir mens dat die betrokke boodskap nou al baie kere aangestuur is. Die vraag is hoe ernstig mens dan die wense moet neem? Is dit maar net ’n gebaar om jou gewete te sus?
Is dit om te sê jy dink spesiaal aan iemand in die nuwe jaar? Nouja, as iemand die Bybelse Prediker se boodskappe sou lees sou jy nogal bekaf gevoel het of hoe? “Sinloos, volslae sinloos, alles is sinloos,” sê Prediker in Prediker 1. Nie juis ’n positiewe boodskap vir die nuwe jaar nie, of hoe? Miskien sou jy die boodskap sommer dadelik uitgevee het en die “vriend” van jou selfoon se adreslys verwyder het.
Die Prediker se uitsprake moet binne konteks gelees word. Dit klink soms of die Prediker swaarmoedig is, die een oomblik platgeslaan en die volgende oomblik in die wolke met sy vreugde oproepe. Dit is tipies mens, want ons almal pendel tussen lag en huil. Tog is die Prediker ten laaste negatief, selfs wanneer hy lewensgenot sterk aanbeveel. Want lewensgenietinge is nie blywend nie, dit kan in ’n oogwink verander en dan beleef jy maar net weer ellende. Die goeie in die lewe versag slegs tydelik, soos ’n susmiddel, die hardheid, pyn en uitsigloosheid van die lewe. Maar dit maak tog die lewe die moeite werd en terwyl dit daar is, moet dit met oorgawe geniet word.
Dit beteken dat die Prediker dalk as ‘n realistiese mens beskryf kan word. Dalk moet ons nie die Prediker se Nuwejaarsboodskap so vinnig uitvee nie. Hy wil ons herinner dat die lewe vervlietend is. Sonder die lewende hoop op die nuwe hemel en aarde wat Christus bring vir elkeen wat glo, is alles sinloos. Wie egter sy vreugde in die Here vind, weet dat alles nie sinloos is nie. So iemand leef nie vir homself nie, en sterf nie vir homself nie. Vir die gelowige is die lewe Christus en die sterwe wins, en dit geld ook vir 2024.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
