Wouter se Watergat: Hoe om jou kat ‘n pilletjie te voer
Opinion piece by Wouter Willemse.
Die groot besprekingspunt hier by ons was Saterdag se nederlaaag van die Sharks teen die Lions. Ons kon ons oë nie glo nie. Van ‘n gerieflike voorsprong van 18 teenoor 3 met rustyd, tot ‘n verloortelling van 20 teen oor 18 aan die einde. ‘n Span met geen Springbokke nie, klop een van die rykste franchises met agt Springbokke in die span, en ‘n skitterpoging in die tweede herlfte wat die Sharks soos afkophoenders laat lyk het.
Oom Pottie, seker die Lions se grootste ondersteuner, het rustyd met sy kop onderstebo in ‘n hoekie gesit. Namate die tweede helfte gevorder het, het hy vroliker begin raak, en kort voor die einde toe die Johannesburgers met twee punte voorloop, het sy blydskap en ons ander se wroeging geen einde geken nie. Toe die Sharks kort voor die eindfluitjie geblaas het, ‘n maklike strafskop kry, het Pottie skielik in ‘n diepe depressie neergesak, en ons ander met ‘n gejuig opgespring want die Sharks sou wen. Toe Boeta Chamberlain misskop, het alles terugverander met Pottie se gille van blydskap en ons geskokte stilte. Ek sê weer. Iets is drasties verkeerd by die Sharks.
Ons storie van die week is lank en nie nuut nie. Jan van Graan van Bloemfontein het my dit in die hand gestop. Iets spesiaal en blykbaar ‘n Nataniëlskepping. Vir diegene wat dit nie ken nie:
Hoe om jou kat ‘n pilletjie te voer: Plaas jou katjie in die boog van jou arm asof jy ‘n klein baba vashou. Sit jou regter-wysvinger en duim aan albei kante van sy snoetjie en oefen versigtig druk uit, onderwyl jy die pil in die ander hand gereed hou. Sodra jou katjie sy bekkie oopmaak, gooi die pil in en gee die katjie die geleentheid om dit af te sluk.
Soek die pil op die vloer en gaan haal die katjie agter die bank uit. Plaas die katjie weer in die ronding van jou arm en herhaal die proses.
Gaan haal die dêm kat uit die slaapkamer en gooi die nat pil in die drom. Neem ‘n nuwe pil uit die dosie, plaas die kat weer in jou arm, terwyl jy albei voorpote stewig vashou. Forseer sy kake oop en druk die pil binne-in sy bek met jou regter wysvinger. Hou die kat se bek vir ten minste 10 tellings toe.
Haal die pil uit die visdam met die klein netjie en gaan haal die mal kat bo van die kas af. Roep nou jou maat uit die tuin uit om jou te kom help. Kniel op die vloer en dwing die kat tussen jou knieë vas, neem sy pootjies in ‘n baie stewige greep, ignoreer die harde gegrom. Laat jou maat die kat se kop ferm vashou en dwing sy bek oop met ‘n houtliniaal. Gooi die pil via die liniaal in sy bek in en vryf jou kat se keel om sy slukproses aan te moedig.
Haal die besimpelde kat van die gordynreëling af en neem nog ‘n pil uit die dosie. Maak ‘n aantekening om ‘n nuwe liniaal te koop en ook om die gordyne te laat regmaak. Vee die stukke glas en keramiek van die beeldjies en potte op sodat jy dit later kan weggooi.
Draai die blasende kat in ‘n groot handdoek toe en laat jou maat bo-op die kat lê of sit, sodat net die kat se kop uitsteek onder jou armholte. Suig die pil met ‘n strooitjie op en forseer die blêrrie kat se bek oop. Blaas die pil, deur die strooitjie, in die kat se keel af.
Lees die pamflet deur, om te sien of die pille onskadelik vir mense is en drink ‘n koue bier om die smaak uit jou mond uit te kry. Ontsmet jou maat se arm, sit salf op die wond en draai ‘n verband om. Verwyder die bloedvlekke van die vloer.
Gaan haal die f*kk*n kat uit die buurman se garage, neem nog ‘n pilletjie uit die boks en drink nog ‘n bier. Sit jou kat in die klerekas sodat net sy kop uitsteek. Forseer sy bek oop en skiet die pil met ‘n kettie in sy keel af.
Gaan haal die skroewedraaier uit die garage en hang die kasdeur terug op sy skarniere. Soek die whiskybottel, neem ‘n groot sluk en ontsmet die krapmerke op jou wange. Maak seker of jou tetanus-inspuiting nog geldig is. Gooi jou stukkende trui in die drom en gaan trek ‘n ou oorpak aan.
Bel die brandweer om die satan-helskat uit die boom uit te kom haal. Vra jou buurman om verskoning vir die taalgebruik en neem die laaste pil uit die dosie.
‘Tape’ albei voorpote van die bl*ks*mse kat aan mekaar vas met ‘duct tape’. Bind hom stewig aan die poot van die eetkamertafel vas met ‘n stuk ankertou. Trek jou ‘welding-gloves’ aan, druk die pil in ‘n stukkie vleis en gooi ‘n groot glas vol water. Hou die klein bl*ks*m se kop agteroor, gooi die vleis in, gevolg deur die hele glas water, hou sy bek toe vir vyf minute.
Neem die bottel whisky en drink hom leeg. Vra jou maat om jou, so gou moontlik, by ongevalle te kry, want jy word al lighoofdig van die bloedverlies. Laat hulle jou vingers en voorarm vaswerk en die laaste pil uit jou oog uit verwyder. Bel onderweg vir Hyperama om ‘n nuwe eetkamertafel te bestel.
Bel ook die Dierebeskermingsvereniging om te reël dat hulle die gemuteerde satanskind van ‘n helkat kom haal. Stop by die troeteldierwinkel om te vra of hulle nie dalk klein hamsters of hasies het nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
