South Coast Fever

Koos du Plessis se onsterflike Afrikaanse musiek

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die dood van die Afrikaanse sanger, Koos du Plessis, in ‘n motorongeluk 40 jaar gelede, is op 15 Januarie herdenk. Toe hy nog gelewe het, was reeds bekend as ‘n ontluikende baanbreker in die Afrikaanse sangwêreld, maar die omvang van Koos se status as waarskynlik die komponis/musikant/sanger wat die grootste bydrae tot gehalte-Afrikaanse musiek gelewer het, is eers werklik na sy dood besef.

In die vroëe tagtigerjare toe Koos se musiek groot blootstelling gekry het, was die uwe ‘n groot aanhanger van hom, en het al die beskikbare kasette en later ‘CD’s van sy liedjies gekoop. Hy was ooglopend ‘n digter van formaat en die fantastiese vermoë om die woorde in musiek vas te lê.

Na sy dood is sy musiek aan die lewe gehou deur ander sangers, veral Jannie du Toit, ‘n vriend van Koos, wie se bydrae oor die jare van onskatbare waarde was en nog steeds is om Koos se nalatenskap te verseker. My ‘herontdekking’ van Koos se musiek het verlede jaar begin toe ‘n groep joernaliste op die dorpie Kaapsche Hoop deur Jannie en sy ensemble getrakteer is met ‘n konsert oor Koos, sy lewe en sy musiek. Die besef dat hy nie sy gelyke het nie, het weer by my posgevat met die lewende uitsending deur RSG verlede naweek van Jannie du Toit en sy musikante se konsert ‘Doep is nie dood nie’.

Koos du Plessis is op 10 Mei 1945 as Jacobus Johannes du Plessis op Rustenburg gebore. Sy pa het dieselfde name gehad, en Koos was een van vier kinders. Weens teenspoed op die plaas het die gesin na Springs aan die Oos-Rand getrek waar Koos aan die Laerskool Pam Brink en Hoër Seunskool Hugenote skoolgegaan het. Na skool het hy ‘n onderwysdiploma aan die Normaalkollege Pretoria voltooi en ‘n BA-graad met Afrikaans as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria. Hy het later deeltyds ‘n Honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Koos het sy loopbaan as joernalis by die destydse Die Vaderland begin. Hy het tussen 1966 en sy dood in 1984 by vier koerante van die destydse Afrikaanse Pers en toe Perskor gewerk, nl. Die Vaderland, Oggendblad, Die Transvaler en Die Nataller. Hy is in 1969 met Mornay getroud, en hulle het drie dogters, Irma, Karla en Karien.

Koos was van kleins af lief vir musiek en wou in standerd 8 sanglesse neem, maar ’n sangjuffrou het glo gesê hy het nie die nodige vaardighede nie. Hy het homself as student leer kitaar speel en liedjies skryf. Platemaatskappye het egter sy musiek afgeskiet en wou sy liedjies verander, maar Du Plessis het geweier. Van sy vriende het egter op ’n dag ‘n kassetopname na die bekende sanger en hoof van ‘n plate-maarskappy, Nick Taylor, geneem. Taylor was dadelik dol oor Du Plessis se musiek. Sy loopbaan het ‘n hupstoot gekry met die geleentheid om drie liedjies op die TV-program Perspektief te sing. Hy het ook in die program Musiek en Liriek opgetree en ’n paar konserte by Die Laager by die Markteater in Johannesburg gehou. Afrikaanse musiekliefhebbers het deeglik van hom begin kennis neem.

Die bekende regisseur Katinka Heyns het sy liedjie “Kinders van die wind” in haar TV-reeks Phoenix en Kie gebruik. Die sangeres Laurika Rauch het die liedjies in die TV-reeks gesing, onder meer “Kinders van die wind”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Die somer is verby” en “Skielik is jy vry”. Rauch het “Kinders van die wind” as ‘n solussewe uitgereik en dit was so in aanvraag dat dit binne die eerste week van bekendstelling twee keer herdruk is. Rauch en Du Plessis het goue plate vir verkope van meer as 25 000 kopieë ontvang. Dit was 13 weke lank op die treffersparade.

Du Plessis het in 1980 sy eerste album as sanger opgeneem. Die naam van die album was Skadu’s teen die Muur en dis vir verskeie toekennings benoem, soos vir die Afrikaanse Langspeler van die Jaar. Sy liedjie “Kinders van die wind” is ook vir Liedjie van die Jaar benoem en het uiteindelik die toekenning as beste Liedjie van die Jaar by die Springbokradio-Sarie-toekennings gewen.

Sy tweede album, ‘As almal ver is’, het twee jaar later verskyn. Sy derde album, ‘Herbergier’, het in 1981 gevolg en is vir Afrikaanse Langspeler van die Jaar tydens die Springbokradio-Sarie-toekennings benoem. Daar het ook in 1981 twee bundels van Koos se lirieke verskyn, en hy het in 1983 ‘n oorkonde van die ATKV ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans. In 1985 het ’n versameling van sy gedigte ‘Om jou oplaas te groet’, saamgestel deur Fanie Olivier, verskyn. Tien jaar later verskyn ’n tweede versameling gedigte met die titel ‘Skink nog ‘n uur in my glas – nagelate verse.’ Die liedjie “Kinders van die Wind” is in 2013 as die “Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye” aangewys. Meer as 60 000 mense het aan die stemming deelgeneem. Du Plessis is in 2021 postuum deur die FAK vereer.

Koos du Plessis het op 15 Januarie 1984 in sy Volkswagen Kewer in Knoppieslaagte naby Centurion verongeluk op pad na sy vriend Nick Taylor, wat besig was om sy vierde album, ‘Die Vierde Horison’ op te neem. Die album is in 1995 onvoltooid uitgereik.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button