South Coast Fever

Wouter se Watergat

"Die besoekers is huis toe, en dinge in die Watergat het baie stiller geword, tipies van middel-Januarie."

Die besoekers is huis toe, en dinge in die Watergat het baie stiller geword, tipies van middel-Januarie. Ons plaaslike klante kom ook nie so dikwels kuier nie want, soos maar met almal van ons, haal die Desember-uitgawes ons in. Die besoekers wat ons wel sien, kla steen en been oor die prys van skoolklere en kruideniersware. Oom Pottie is oortuig daarvan die koste van die diesel wat supermarkte moet betaal om hul kragopwekkers tydens beurtkrag aan die gang te hou, word bloot by die pryse van hul produkte getel. Dit maak sin, want hul winste bly basies dieselfde terwyl alles in die winkels duurder word. Sug.

Een van die besprekingspunte van die week was die Sharks se oorwinning oor Oyonnax en die verligting dat hulle weer op die wenpad is. Die afrigter John Plumtree het verklaar dis die begin van ‘n wen-era, en kom ons hoop hy is reg. Met al daardie talent behoort die manne van Durban die minimum-wedstryde te verloor. Die besprekingspunt wat egter die meeste emosie uitgelok het, was die gebeure ivm. Suid-Afrikaanse krieket. ‘n Mens hoef nie ‘n siener te wees om te besef iets is agter die skerms drasties verkeerd nie. Dean Elgar se uittrede, Heinrich Klaasen se vaarwel aan toetskrieket, ooglopend weens politiek-verwante binnegevegte en swak bestuurspraktyke , die ontheffing van David Teeger van sy onder-19-kapteinskap omdat hy kwansuis in gevaar sou wees tydens die komende wêreld-toernooi, terwyl dit ooglopend is sy Joodse afkoms en sy lof aan Joodse soldate is die ware rede. Hier kom nog groot ramifikasies sodra daardie damwal breek.

Die hoogtepunt van die week was ‘n besoek van drie motorfietsryers. Hulle het hulle net as Danny, Moe en Big Bopper voorgestel, met hul name ook agter op hul denimbaadjies. Dit het my nogal laat terugdink aan my jeugjare. Indien hulle daardie jare jonk was, sou hulle die destydse ducktails eer aangedoen het. Ewenwel, toe die derde of vierde ronde ‘Captain and Coke’ in hul ( en hul meisies se) keelgatte af verdwyn, het hulle ontpop in van die snaaksste storievertellers denkbaar. Die meeste stories, veral die meisies s’n, is nie herhaalbaar nie, maar dit was uiteindelik ‘n genoeglike aand. Toe hulle uiteindelik vertrek, na ‘n hele rits ‘Captains’, ‘lekker geklap’, soos die een meisie erken het, het ons hulle afgesien. Ten spyte van hul kurktrekker-lopies na die fietse toe, het die Goldwings stemmig , stil ( en reguit ) straat-af verdwyn, nugter weet waarheen.

‘n Herhaalbare loopstorie wat een van die meisies vertel het, het gehandel oor die motoris wat verbaas sien hoe ‘n motorfietsryer langs hom op sy kop op die saal van sy fiets staan teen minstens 80 kilometer per uur. Skielik val hy terug op sy sitplek, ry tot reg langs die motoris en vra hom vir ‘n sigaret. Die motoris, nog steeds half-geskok, sê ‘nee man, jy kan nie dit doen nie, dit gaan jou dood kos’. ‘Moenie worry nie man’, antwoord die motorfietsryer, ‘ek rook net tien per dag’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button