South Coast Fever

Wouter se Watergat

Ek het gewonder of dit die regte ding sou wees om te doen, maar is nou bly ek het die besluit geneem...

Ek het gewonder of dit die regte ding sou wees om te doen, maar is nou bly ek het die besluit geneem. Verskeie van ons gereelde klante het by my en Oom Pottie aangedring dat die Watergat verlede Sondag van vyf-uur af moes oop wees sodat hulle hier kon kom brekfis eet en kyk na die geveg tussen Dricus du Plessis en Sean Strickland. Tot ses maande gelede het ek baie min na hierdie ‘skop/stoei/boksgevegte’ gekyk, en weet nou nog nie wat die korrekte Afrikaanse naam daarvoor is nie.

Het egter verlede jaar kennis geneem van Dricus du Plessis, en onmiddellik van die man gehou. Hy het ‘n aangename persoonlikheid, en die manier waarop hy sy vorige oorwinning gehanteer het, het ons almal hier in die Watergat beïndruk. Veral die manier waarop hy Afrikaans elke nou en dan gepraat, en in die kamera woorde kwytgeraak het wat nog lank in ons land se dialoog gaan voortbestaan: “Ons weet iets wat hulle nie weet nie’. Veral nou dat hy die kampioen is, en dit verander het na ‘Nou weet hulle wat ons weet’. Dis opmerklik hoeveel bekende rugby- en sokkerspelers, spelers van ander sportsoorte van alle bevolkingsgroepe, en gewone landsburgers wat niks van die sporsoort af weet nie, hom steun.

Ewenwel, ons het besluit om wel ontbyt te bedien van 05:30 af, dit wyd en syd geadverteer, en duim vasgehou dat ons nie net ‘n paar mense sou wees nie.. Groot was ons verbasing toe daar reeds teen vyf-uur sowat 20 mense opgedaag het, omdat die TV-advertensies verkeerdelik aangedui het die geveg sou om vyf-uur begin, pleks van die toernooi. Ons was uiteindelik net oor die veertig wat lank moes wag vir die geveg, tot ná 07:30, maar nie omgegee het nie want die ander gevegte het ons voorberei vir wat kom, selfs vroue wat mekaar dik tik, en van die besoekers het sommer twee borde ontbyte bestel….een net na vyf en nog een na Dricus se oorwinning…..saam met ’n bier. Ons blydskap was groot nadat dit gelyk het asof hy die geveg sou verloor, maar in die laaste twee rondes die knoop deurgehaak het. Suid-Afrika het ‘n nuwe held. Hoop hy bly nog lank die kampioen, en veg ook hier in Suid-Afrika.

Die enigste ander noemenswaardige gebeurtenis was Oom Pottie se wroeging toe die Lions later Sondag ‘n sekere oorwinning teen die Ospreys weggegooi het. Hy het onmiddellik daarna huis toe gegaan om te ‘herstel’, en het eers Maandag teen twaalfuur stil-stil hier ingekom. Nie veel gesê nie, en ons het ook nie vrae gevra nie.

Ons glimlag van die week handel oor hoe ‘n man sy vrou bederf. Wanneer sy laat werk en hom meedeel sy is op pad, tap hy lekker warm water met skuim solank in, sodat sy onmiddellik kan begin skottelgoed was sodra sy arriveer. Toe dit onlangs aanhoudend by hulle gereën het, het sy skoonma, wat by hulle bly, drie dae lank net deur die venster gestaar. Hy het haar naderhand so jammer gekry dat hy haar maar laat inkom het.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button