South Coast Fever

KZN die verkiesing-slagveld van 2024?

Opinion piece by Johan Pretorius.

Met die lotsbepalende Suid-Afrikaanse verkiesing wat alhoe nader kom, neem die bespiegelings toe oor wat ons te wagte kan wees. Daar is min politici, van alle partye, en kiesers in die land wat nie besef dit gaan waarskynlik bepaal of Suid-Afrika oor die afgrond na die ashoop van mislukte state gaan stort of nie.

Daar is ‘n magdom faktore wat ‘n rol kan speel om die uitslag te bepaal, en daar is duidelike aanduidings oor watter faktore van die uiterste belang gaan wees. Die kwessies van koalisies, nuwe politieke partye en groeperinge, seker die mees dramatiese van almal, die stigting van die uMkhonto Wesizwe-party wat deur oud-president Zuma gesteun word, kan deurslaggewend wees. Veral wat KwaZulu-Natal betref as gevolg van die provinsie se politieke geskiedenis.

Dit is een van die redes waarom verskeie politieke kommentators meen KwaZulu-Natal gaan die grootste politieke veldslag van die verkiesing wees. Die politieke kommentator en uitsaaier Stephen Grootes, som dit myns insiens in die Daily Maverick die beste op. Hy wys daarop baie het verander sedert die verkiesing van 2019. Daar is nou meer persoonlikhede en veranderlikes, wat kan meebring dat die ANC minder as 50% steun in KZN sal kry, met die DA en die IVP wat gereed is om saam te werk waar dit nodig is.

Hy wys daarop vyf jaar gelede, na die nasionale en provinsiale verkiesings, was die algemene verwagting dat Gauteng die grootste politieke stryd in die volgende verkiesing sou oplewer weens die destydse naelskraapse ANC-oorwinning in hierdie provinsie. Wie sou destyds verwag het dat die ANC in die plaaslike verkiesing van 2021 die algehele beheer oor eThekwini sou verloor, en dat sy steun tot net 41% in die hele provinsie sou daal? Dis waarskynlik waarom drie van Suid-Afrika se grootste partye, die ANC, IVP en die EFF, hul verkiesingsmanifeste in die Moses Mabhida-stadion in Durban gaan bekendmaak. Die DA gaan hul manifes in Pretoria loods.

Daar is verskeie ander redes waarom KZN so belangrik is. Omdat dit die provinsie is met die tweede grootste bevolking, sal die politieke partye ‘n spesiale poging aanwend om soveel kiesers as moontlik te bereik. Die meeste kiesers stem vir dieselfde party in die nasionale en provinsiale verkiesings, op twee verskillende stembriewe. ‘n Goedbeplande en -bestuurde verkiesingsveldtog sal dus groot dividende oplewer. Grootes wys daarop dit het in die verlede gebeur toe Jacob Zuma die leier van die ANC geword en die ANC se stemgetalle in die provinsie dramaties toegeneem het. In daardie stadium was die bevolking van KZN groter as dié van Gauteng, wat ‘n dramatiese effek gehad het op die ANC se deel van die nasionale stemme en verseker het die ANC beheer die provinsiale wetgewer.

Die provinsie het dus baie meer politieke bestanddele as op enige tydstip in die verlede. Veral die toenemende steun van die IVP sal ‘n groot bykomende en dalk beslissende faktor wees, tesame met die uMkhonto Wesizwe-party met Jacob Zuma as sy hoë profiel-stemwerwer. Dit maak sake vir die ANC baie moeilik, want benewens die IVP en die DA, moet die ANC nou walgooi teen sy voormalige leier, wat nog steeds ‘n betekenisvolle aanhang in KZN het, veral onder die tradisionele, landelike kiesers. Daar is kommentators wat meen die MK-party sal nie ‘n noemenswaardige aantal van die nasionale stemme op hom verenig nie, maar selfs as dit gebeur, sal Zuma ‘n groot fokuspunt wees, ten spyte daarvan dat die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee besluit het om hom te ignoreer.

Die uwe is egter oortuig daarvan dat Zuma ‘n groot stok in die ANC se verkiesingswiel in KZN gaan wees. Veral omdat hy tot nou toe nie uit die ANC geskop is nie. Dis ongehoord dat ‘n lid van ‘n gegewe party kan stemme werf vir ‘n ander party, en daarmee wegkom, wat net nog ‘n bewys is van hoeveel invloed hy nog het, ten spyte van al sy wandade en die krininele klagtes teen hom. Hy gaan hom daarop toespits om die ANC, en veral president Ramaphosa, te kritiseer en sleg te sê. Hie dit sal kan voortsuur, weet nugter, en die uwe voorspel die ANC sal geen ander keuse hê as om hom uit te skop nie. Baie gou.

Nog ‘n faktor is die onstabiliteit rondom die koningshuis, wat ‘n groot invloed op die stemmery kan hê. Bekendes in die provinsie is bevrees dat geweld ‘n kenmerk van die verkiesing kan wees, veral weens die provinsie se geskiedenis van politieke moorde. Die oproer en geweld wat uitgebreek het weens die tronkstraf van Jcob Zuma is nog vars in die geheue. Daarbenewens het verskeie opposisipartye in die provinsie oor die afgelope vyf jaar begin saamwerk. Die DA en die IVP het ‘n diensleweringspakt in die provinsie gesluit en in twee tussenverkiesings in eThekwini saamgewerk. Die stigting van die sg. Protesbeweging van eThekwini-belastingbetalers is ‘n klinkklare bewys van die ontevredenheid van selfs tradisionele ANC-kieswers oor die swak dienslewering. Hierdie ontevredenheid kan meebring dat meer kiesers as gewoonlik stembus toe gaan, tot nadeel van die ANC.

Alles dui op ‘n hewige politieke geveg in KZN wat ‘n beslissende invloed op die nasionale uitslag gaan hê. Mag dit die land red.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button