Sinloos sonder God
Die werk druk sy stempel af op jou menswees, net soos wat jy by die werk ook ’n invloed uitoefen op andere.
Werk neem ’n belangrike plek in mense se lewe in. Ons word gevorm deur ons werkplek. Mense vind dikwels hul identiteit in hul werk. Hulle kan nie meer hulself losmaak van die rol wat hulle by die werkplek speel nie.
Die werk druk sy stempel af op jou menswees, net soos wat jy by die werk ook ’n invloed uitoefen op andere. Dan leef ons ook nog in ’n kompeterende wêreld waar mense graag wil vooruitgaan, dikwels ten koste van andere. Nie almal het werk in Suid-Afrika nie. Die wat kan werk is baie bevoorreg. Dan is almal se werk ook nie noodwendig veilig nie.
Die Psalmdigter het ’n tydige woord wat ook geldig is ten opsigte van ons werk. In Psalm 127:1 staan dar geskrywe: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker.”
Eintlik kwalifiseer hy sy opmerking op skokkende wyse, want hy sê dat alles sonder God tevergeefs is. Sonder God kan ons nie ‘n huis bou of ‘n stad beskerm nie en is dit tevergeefs dat ons van vroeg tot laat hard werk. Sonder God is die lewe sinloos.
Die Psalmis sê nie dat die geloof of ons geloofslewe sonder God sinloos is nie, maar dat ons hele lewe en elke aspek van ons lewe sinloos is as God nie betrokke is by elke ding wat ons doen en by ons hele lewe nie. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan werk tevergeefs. Hier gaan dit ook om die figuurlike bou van ‘n huis, soos die bou van ’n gesinslewe Letterlik is die werk van die bouers wat self dit doen en nie saam met die Here en in vertroue op God bou nie, tevergeefs.
Psalm 127 vra dat ons elkeen eie lewe onder die soeklig plaas. Hoe bou ek aan my huis? Hoe beskerm ek wat aan my behoort? Hoe werk ek? Sonder God is alles tevergeefs en sinloos. As die Here met ons is, kry alles egter nuwe betekenis en het alles sin. Christene beaam dit deur te sê dat die lewe Christus is en die sterwe wins.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
