Mag jy jou kinders se kinders sien, oftewel jou kleinkinders. So lui die woorde van Psalm 128:6. Deesdae, waar baie mense hoë ouderdomme bereik, is dit amper vanselfsprekend dat ek darem een kleinkind se geboorte sal beleef en in baie gevalle ook die agterkleinkinders se geboortes. In die Bybelse idioom word ’n lang lewe met die seën van die Here vereenselwig. Natuurlik sal daar baie wees wat fisies en emosioneel nie gesond is nie, wat wens dat hul sterfdag nader kom.
Mense wat selfs die uitweg van “genadedood” verlang. Vir die realiteit van oudword en broosheid is daar begrip, veral as jy jou lewensmaat sien wegkwyn van siekte. Om terug te kom na die seënbede dat jy jou kleinkinders mag sien. Hoe sien die verhouding tussen jou en jou kleinkinders daar uit? Is jy bevoorreg om hulle darem gereeld te sien? Dit is die enigste verhouding waar mense versot is op mekaar doodeenvoudig omdat hulle asemhaal, skryf dr. Arthur Kornhhaber, redakteur van “The Grandparent Guide.”
’n Naby verhouding tussen grootouers en kleinkinders kan vir beide van groot waarde en tot groot seën wees. Dink aan al die rolle wat grootouers kan vervul soos die van mentor, kinderoppasser, storieverteller of sommer net speelmaat. Indien jou eie verhouding met die Here Jesus Christus gesond is, kan jy jou kleinkinders leer van Godsvertroue, afhanklikheid. Jy kan hulle raadgewer wees en ook hulle grootste bewonderaar wat spog oor hul kleinste prestasies.
Geen wonder dat die Psalmis se seënbede is dat sy gelowige lesers oud genoeg sal word om hulle kleinkinders te sien nie. Bid jy genoeg vir jou kleinkinders? Jy sou ’n eenvoudige gebed vir hulle kon bid soos wat ons aangaande Jesus in Lukas 2:52 lees: “Jesus het steeds wyser en al meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense.” Dis ’n mooi gebed wat jy ook vir jou kleinkinders kan toebid. Belangrik is dat jy hulle sal toewens soos die apostel Paulus elders ook wens, “dat hulle in my voetspore sal volg soos wat ek ook in die voetspore van Christus volg.” Soos ’n kind eenkeer gesê het: Oupas en oumas hou ons hande vas vir ’n ruk, maar ons harte vir ewig.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
