Wouter se Watergat
"President Ramaphosa het voeling met die werklikheid verloor..."

Nog ‘n stillerige Februarieweek is verby, maar ons is, soos n ormaalweg, aan die gang gehou deur ons gereelde besoekers wat met etenstyd inglip vir ‘n vinnige kouetjie of twee saam met ‘n ligte ete, of die ander wat onderweg huis toe kom seker maak dat hulle nie dors is vir aandete nie. Ek het dit reeds voorheen genoem, maar ek is doodseker van hierdie manne se ander helftes weet nie hulle hou op werk meer as ‘n uur en ‘n half voordat hulle by die huis aankom nie. Ewenwel, niks met my te doen nie. Behalwe dat dit die Watergat se omset baie goed doen.
Die sportpraatjies van die week het grootliks gehandel oor die Sesnasies-rugbykompetisie en die T20-krieket wat die tweede keer welverdiend deur die Oos-Kaapse Sunrisers gewen is. Niks die moeite werd om hieroor te rapporteeer nie. Die week se diskoers is deur politieke standpunte oorheers, sowel oor Suid-Afrikaanse as Amerikaanse verwikkelinge. President Ramaphosa se staatsrede was uiteraard ‘n groot besprekingspunt, en ons was dit deur die bank eens dat dit virseker een van die grootste mislukkings van sy loopbaan was. Die man lyk gedaan, moeg en heeltemal uit voeling met wat in die land aan die gang is.
‘n Koerant het na hom verwys as ‘Cyril in Wonderland’. ‘n Beter beskrywing kan ek my nie voorstel nie. Ek weet hy skryf nie self sy toesprake nie, maar hy is as president nie verplig om ‘n klomp bollie aan die land se mense te vertel en verwag hulle moet hom glo nie. Oom Pottie reken dis eintlik goeie nuus, want dit bewys die ANC gaan groot slae by die stembus kry. Dit mag so wees, maar meningspeilings wys terselfdertyd daarop dat die EFF se steun tot 18% gegroei het, en wat sal gebeur indien die ANC so desperaat is dat hy ‘n koalisie aangaan met die gevaarlikste politikus in die land, Julius Malema, en sy party? Soos premier John Vorster destyds verklaar het: ‘Too ghastly to contemplate’.
Donald Trump was die middelpunt van die redenasies oor die Amerikaanse politiek. Dit was weereens duidelik daar is geen middeweg met hierdie man nie. Jy verpes hom of jy dink hy is die redder van die wêreld. Pottie en ek hou ons uit hierdie debatte uit, behalwe om vrede te maak wanneer dinge warm raak. Die Amerikaners sit met ‘n reuse dilemma. Hulle moet kies tussen ‘n 81-jarige sittende president wat ooglopend op die afdraendepad is, en ‘n man wat weer Withuis toe wil gaan, onder meer om homself amnestie te gee ivm. verskeie hofgedinge teen hom indien hy die prosesse kan vertraag. Interessante tye lê vir ons voor.
Die ligpuntjie van die week kom van Susan Hartslief van Uvongo: ‘n Jong man klim op ‘n bus, en steek ‘n sigaret aan. Die busbestuurder berispe hom: ‘Meneer, kan jy nie sien daar is ‘n kennisgewing wat mense waarsku dat rook verbode is nie?’ Waarop die jong man antwoord: ‘En reg langs die kennisgewing is nog een wat sê jy moet ‘n Playtex bra dra. Verwag jy ek moet my aan elke kennisgewing steur?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page