Moeletsi Mbeki – een van die ANC se grootste kritici
Opinion piece by Johan Pretorius.

Elke joernalis wat jsrelank in die bedryf is of was, ontmoet in hul loopbane uiteraard duisende mense. Sommiges vlugtig, sommiges meer dikwels en sommiges gereeld. Tussen die meerderheid wat redelik gou vergeet of langer in die betrokke joernalis se ervaringsveld bly, is daar die klein persentasie wat ‘n groot indruk op jou maak, en wie jy nie sommer vergeet nie.
In die uwe se geval was een van hierdie mense Moeletsi Mbeki, die jonger broer van oud-president Thabo Mbeki. Ons het mekaar in die vroeë negentigerjare by die SAUK ontmoet. Dit was toe ‘n klomp uitgewekens op die nasionale uitsaaier toegesak het, sommige van hulle as ‘raadgewers’ of ‘monitors van die oorgangsproses’ vir die mense wat die ‘transformasie van die SAUK’ bestuur het. Waar ‘n mens met die ander deurentyd bewus was van ideologiese standpunte in gesprekke, was die intersaksie met Moeletsi Mbeki heel anders. Hy het aangebied om as vryskut deel te wees van ‘n programvervaardigingsproses, en het bloot op ondersteuning en hulp gevra. Waartoe ons ingestem het.
Hy het toe reeds ‘n soliede joernalistieke agtergrond gehad, aan die Universiteit van Warwick in Brittanje in die ingenieurswese gestudeer,en was later as joernalis ‘n Niemann Fellow by die Universiteit Harvard. Hy was ooglopend baie intelligent, welbelese en het ‘n besonder verfrissende, realistiese siening van sake gehad. Ek het na 1994 nooit weer met hom kontak gehad nie, maar met groot belangstelling sy kommentare en uitlatings gevolg. Hy is op die oomblik ‘n suksesvolle sakeman, gesogte politieke konsultant vir groot maatskappye, en is die adjunk-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede.
Die joernalis Mark Gevisser het enkele jare gelede in sy biografie oor Thabo Mbeki geskryf dat Thabo broer Moeletsi ‘anders’ was. Hy het in ‘n stadium aan sy ma, Epainette, verklaar: ‘Ma, ek gaan nie broer Thabo en pa Govan volg nie. Hulle stel te veel in abstrakte dinge belang. Die politiek is abstrak. Ek wil iets meer prakties doen’. Hy het toe TV-programme vervaardig, boeke geskryf, konsultantwerk gedoen, en politieke kommentaar gelewer.
Die rede waarom ek besluit het om vandeesweek oor die 78-jarige Moeletsi Mbeki te skryf, is ‘n artikel in die Daily Maverick deur Chris Makhaye. Mbeki noem die vyf ‘doodsondes’ van die ANC, en doen voorspellings oor vanjaar se verkiesing. G’n wonder nie die ANC het Mbeki reeds by herhaling daarvan beskuldig dat hy die party verraai het, en heftig gereageer toe hy president Zuma destyds kwaai gekritiseer het. Mbeki motiveer sy vyf ‘ANC-doodsondes’ breedvoerig, maar weens ‘n gebrek aan ruimte noem ek net die nodigste motivering:
1. Die aanvaarding van die breë toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (BBBEE) en regstellende aksie as regeringsbeleid. Hy wys daarop die beleid wat deur die sakesektor begin is om die guns van die party te probeer wen, is deur die regering aanvaar. Geld en aandele is aan mense soos Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale en talle ander uitgedeel. Dit het die swart middelklas verbreed, maar al die ander bevolkingsgroepe vervreem en die ekonomie laat stagneer. Die middelklas is bevoordeel deur werkskepping en voordele in die staatsdienssektor. Die mense wat die poste gekry het was egter nie bekwaam genoeg om die werk te doen nie. Die openbare sektor is ‘n totale mislukking. Munisipaliteite landwyd is die beste voorbeeld hiervan.
2. Die vergroting van die swart middelklas deur regstellende aksie as ‘n indiensnemingsbeleid. Dit was korrek dat die private sektor regstellende aksie toepas, maar as staatsbeleid het dit ‘n katastrofiese effek gehad want dit het net die swart elite bevoordeel en die res vervreem, insluitend arm swartmense, blankes, Kleurlinge en Indiërs. Die parasitiese swart middelklas is afhanklik van die staatsdiens vir sy welvaart en vooruitgang. Persentasiegewys gemeet teen bruto-volksproduk, word SA-staatsamptenare die beste op aarde betaal. In November verlede jaar was daar 55 000 staatsamptenare wat meer as ‘n miljoen rand per jaar verdien het. Hulle het ‘n parasitiese verhouding met die staat, kry reuse-salarisse en doen absoluut niks om dit te verdien nie.
3. Die behoud van ondernemings in staatsbesit, soos Eskom, Prasa, Transnet, pleks daarvan om hulle te privatiseer. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het die afgelope 15 jaar agteruitgeboer omdat die staatsondernemings gefaal het. As gevolg hiervan is die privaatsektor teësinnig om werkskeppende beleggings te maak. Mbeki sê ook daar bestaan nie iets soos ‘White Minority Capital’ nie. Die begrip is deur die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger uitgedink.
4. Buitelandse beleidsmislukkings, veral tov. Mosambiek en Zimbabwe, onder meer die invoer van heroine uit Mosambiek is toegelaat, en die vergrype in Zimbabwe met ‘stille diplomasie’ gehanteer.
5. Die verwydering van militêre beheer oor die landsgrense. Indien ‘n land nie jy grense beveiloig nie, speel hy in die hande van sowel sy vyande, mense en organisasies wat aasdiere is.
Is daar vir Suid-Afrika enige onmiddellike verlossing? Mbeki dink nie so nie, hoewel vanjaar se verkiesing die einde van die ANC se dominansie sal beteken. Daarna sal ons probleme voortduur, want geeneen van die 300 politieke partye wat waarskynlik gaan deelneem, sal die vermoë hê om die legio probleme in die land op te los nie. Al verloor die ANC sy meerderheid, sal hy steeds die dominante party bly, met van sy beleidsrigtings steeds daar. ‘n Nuwe party moet uiteindelik ontstaan wat die plek van die ANC volwaardig kan inneem.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page